Central SA
Broer word Hannes se laaste hoop vir beenmurgskenker─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:17 Mon, 13 Jul 2026
Ná elf jaar se wag op ’n geskikte beenmurgskenker is al raad vir ’n Noordwes-familie om met ’n 50%-pasmaat voort te gaan.
Hannes Hern (18) van Klerksdorp sal binne die volgende ses tot agt weke ’n beenmurgoorplanting by die Wits Donald Gordon-hospitaal in Parktown, Johannesburg, ondergaan. Dokters het gewaarsku die oorplanting moet binnekort gebeur om sy kans op oorlewing te verseker.
Sy broer, Dawie, sal as sy 50%-pasmaat die beenmurg skenk nadat geen volledige pasmaat gevind kon word nie. “Die besluit is geneem nadat daar ondanks ’n intensiewe internasionale soektog steeds niemand gevind kon word wat ’n 100%-pasmaat is nie. Hannes se enigste uitweg nou is dat die oorplanting so gou moontlik moet plaasvind,” sê Sulette, hul ma.
Hy leef sedert kinderjare met Fanconi-anemie wat veroorsaak dat sy beenmurg glad nie meer funksioneer nie en dat sy liggaam nie meer bloedplaatjies, rooibloedselle of witbloedselle produseer nie. Leukemie is ook vanjaar by hom gediagnoseer.

Hannes Hern (18) van Klerksdorp. Foto verskaf
Hoewel Hannes se leukemie ná twee rondes chemoterapie onder beheer is en daar geen tekens van die siekte in sy beenmurg of bloed is nie, bly sy toestand uiters kritiek.
“Hannes word aan die lewe gehou deur gereelde bloed- en plaatjie-oortappings, asook behandelings wat sy witbloedselle stimuleer,” verduidelik Sulette. “Soos die dokter aan ons verduidelik het, kan die kanker enige tyd terugkeer. Daarom moet die oorplanting gedoen word voordat die leukemie weer ’n kans kry om terug te slaan.”
Omdat Dawie slegs ’n 50%-pasmaat is, sal die prosedure aansienlik meer ingewikkeld wees as ’n gewone beenmurgoorplanting. Anders as met ’n volledige pasmaat, waar stamselle uit die bloed geoes word, sal hy vir ongeveer drie uur onder algemene narkose wees terwyl dokters minstens een liter beenmurg direk uit sy bene oes.

Hannes Hern en sy ma, Sulette. Foto verskaf
Voor die prosedure moet Dawie ook vir vyf dae inspuitings ontvang wat sy liggaam stimuleer om baie meer bloed- en beenmurgselle te vervaardig.
“Die mediese span het verduidelik dié proses plaas ekstra druk op sy hart en longe, daarom ondergaan beide broers reeds uitgebreide hart-, long- en sielkundige evaluasies voordat die oorplanting kan plaasvind,” sê Sulette.

Hannes Hern benodig dringend 'n beenmurgoorplanting-operasie. Foto verskaf
Die dokters sê hoewel die risiko vir Dawie taamlik laag is, lê die grootste gevaar by Hannes. Met ’n 50%-pasmaat is die kans op komplikasies, waaronder graft-versus-host-siekte (GVHD), aansienlik groter, terwyl sy Fanconi-anemie die oorplanting verder bemoeilik.
GVHD gebeur wanneer die geskenkte immuunstelsel (die ent) die pasiënt se eie liggaam (die gasheer) as vreemd herken en aanval.

Hannes Hern en sy pa, Johan. Foto verskaf
Die beraamde koste van die behandeling beloop sowat R2,2 miljoen. Hoewel die mediese fonds sekere uitgawes sal dek, sê Sulette dit is feitlik onmoontlik om vooraf te weet watter prosedures goedgekeur sal word en watter nie.
“Om nou reeds te sê presies watter koste ons self sal moet dra, is feitlik onmoontlik. Die koste verander voortdurend namate nuwe ondersoeke, behandelings en onvoorsiene uitgawes bykom.”
Die familie het reeds sowat R140 000 se afgekeurde eise op Hannes se onkologieplan gehad. In een geval moes hulle ook ongeveer R15 000 self betaal nadat ’n noodprosedure om ’n PICC-lyn (perifeer ingevoegde sentrale kateter) te plaas nie vooraf deur die mediese fonds goedgekeur kon word nie omdat dit oor ’n naweek plaasgevind het.
’n Geldinsamelingsveldtog is begin om die familie te help om die broodnodige beenmurgoorplanting te finansier. Mense wat die familie wil ondersteun, word versoek om slegs deur die amptelike fondsinsameling- of Hands of Grace-platforms by te dra.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir elke persoon wat reeds saam met ons stap,” sê Sulette. “Benewens finansiële ondersteuning vra ons mense veral om vir Hannes te bid. Die komende weke is ongelooflik belangrik en ons glo elke gebed maak ’n verskil.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

