On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein skud sy vere reg vir nasionale kouvoëlfees

───   SUSAN MARÉ 13:25 Mon, 13 Jul 2026

Bloemfontein skud sy vere reg vir nasionale kouvoëlfees | News Article
Zebra-vinkies. Foto verskaf

Besoekers kan ’n simfonie van voëlsang verwag wanneer die jaarlikse nasionale skou van kouvoëls op die Bloemfonteinse skouterrein aangebied word.

Die skou is van 16 tot 19 Julie en deelnemers word uit al die provinsies verwag. Hierdie kleurvolle geleentheid is onder die beskerming van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kouvoëlvereniging (Sancba).

Besoekers van Bloemfontein en Sentraal-Suid-Afrika kan hulle regmaak vir ’n ongewone vertoning van tussen 1 000 en 2 000 kanaries en krombekvoëls. Ander voëls wat ook gewoonlik op skoue vertoon word, is siervoëls en kouvoëls soos kanaries, sysies, parkiete en papegaaie.

Die Bloemfontein-kouvoëlklub is die gasheer van die kampioenskap. Jan Greyvenstein, voorsitter, sê dit is deel van die opbou na die klub se 100ste bestaansjaar in 2028. Die beoordeling is in die Violet- en Iris-sale op die skouterrein.


Sancba bevorder die aanhou, teel en skou van kouvoëls op ’n georganiseerde vlak. Die niewinsgewende organisasie is die oorkoepelende liggaam vir geesdriftiges, telers en vertoners van siervoëls en kouvoëls in Suid-Afrika.

Amptelike ras- en skoustandaarde word vir verskillende voëlspesies en -variëteite opgestel om gehalte en eenvormigheid te verseker. Nasionale beoordelaars word deur Sancba opgelei en geakkrediteer om voëls volgens streng riglyne op skoue te beoordeel.

’n Pronkerige Green Cock. Foto verskaf

By die beoordeling van kouvoëls word onder meer streng na die algemene kondisie, postuur, kleur en vere-eienskappe van die voël gekyk. Aspekte soos helder oë, skoon neusgate, geen tekens van siekte nie en vere wat skoon, glad, blink en simmetries is, is belangrik. Die beoordelaars kyk ook na die bou en postuur, rassestandaard, rustigheid in die hok en of die pote en bekke skoon is.

By die sangkanaries word hierdie voëls dikwels in ’n stiller vertrek beoordeel waar die beoordelaar bloot na die voëltjies se repertoire luister. 

Wat toonhoogte en klank betref, moet die sang melodieus, ryk en sonder skril of harde klanke wees. Punte word ook toegeken vir die verskeidenheid ingewikkelde “rolle”, “toere” en fluitnote wat die voël kan baasraak.

Suid-Afrikaanse Gouldian-vinke het al internasionaal presteer. Foto verskaf

OFM Nuus het met Ben Janse van Rensburg, ’n lid van die Bloemfonteinse kouvoëlvereniging gepraat. Drie skoue word elke jaar ná die Bloemskou aangebied – die hoenderskou, duiweskou en dan, vanjaar die vyfde opeenvolgende nasionale Kanarie- en Krombekvoëlkampioenskap.

“Die Bloemfonteinse klub bestaan sedert 1928. “Ons verwag 1 000 tot 2 000 spesies wat deur 14 spesialisbeoordelaars beoordeel gaan word.”

Vir vertoners is pryse op die spel en die bestes van die beste word uitgekies om deel te wees van die skou van die Wêreld-kouvoëlvereniging. 

“Ons was al suksesvol toe Suid-Afrika se inskrywings van Zebra- en Gouldian-vinke onder die top-10 wêreldwyd geklas was.”

Die skou is oop vir besoekers op Vrydag (17/7) van 15:00 tot 18:00 in die Violet- en Iris-sale. Saterdag (18/7) kan besoekers van 09:00 tot 18:00 hulself in die skouspel kom verlustig. Toegang is gratis en ’n snoepie is beskikbaar vir lekkernye en drinkgoed.

OFM Nuus/Susan Maré sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.