Central SA
Verwoestende ongeluk verander jong Vrystater se lewe vir altyd─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:18 Mon, 13 Jul 2026
’n Jong Vrystater se lewe het binne oomblikke onherroeplik verander nadat hy in ’n ernstige motorongeluk was wat jare se rehabilitasie en herstel kan verg.
Willie Kluyts (22) van Bloemfontein veg maande ná die ongeluk steeds om sy lewe terug te kry. Hoewel hy vorder, is die pad vorentoe nog lank. Sy familie hoop hy sal eendag weer ’n selfstandige lewe kan lei.
Hy is op 26 April ernstig beseer toe sy voertuig vermoedelik begin gly het nadat ’n ander voertuig hom glo van die pad af gedruk het. Hy het beheer oor die voertuig verloor en teen ’n boom op die McGregor-pad naby die McGregor Winery op Klapmuts naby die Paarl gebots, sê Robbie. Gerhardt Byleveld (15), Willie se halfbroer, is op slag dood.
Willie is ernstig beseer. Hy het derdegraadse brandwonde opgedoen, sy bekken is gebreek, sy kakebeen is beseer en hy het ook sy C7-nekwerwel gebreek. Hy het boonop ’n traumatiese breinbesering opgedoen wat steeds sy daaglikse lewe beïnvloed.

Willie se herstel kan jare duur. Foto verskaf
Hy ontvang tans behandeling by Brain Care Rehab-sentrum op Ashton in die Boland. Hoewel hy vordering maak, sê sy pa die pad na herstel is nog lank en vol onsekerheid.
“Op hierdie stadium kan Willie nog nie loop nie. Hy sukkel met sy korttermyngeheue, verwar mense met mekaar, raak soms deurmekaar en word baie vinnig moeg. Hy moet ook steeds basiese daaglikse funksies weer aanleer.”
Dokters wag om te sien hoe sy brein herstel voordat hulle ’n definitiewe plan vir verdere behandeling kan bepaal. Die familie is ingelig dat daar ’n groot moontlikheid is dat Willie nog uitgebreide rehabilitasie en verdere behandeling sal benodig.
‘Weens die breinbesering … bestaan die moontlikheid dat hy nooit weer sal kan werk nie’
“Die ongeluk het ons familie se lewe totaal verander. Ons moes inderhaas van Bloemfontein na Kaapstad ry. Dit was verskriklik moeilik vir sy drie jonger susters om hul boetie so seer en vol pype te sien. Die gemeenskap het ons ongelooflik ondersteun met gebede en boodskappe van hoop.”
Dokters het die familie gewaarsku Willie se herstel kan jare duur. Weens die breinbesering sal hy waarskynlik lank nie kan werk nie, en indien sy brein nie voldoende herstel nie, bestaan die moontlikheid dat hy nooit weer sal kan werk nie.
Die familie glo Willie gaan ook langtermynuitdagings in die gesig staar. Benewens die moontlikheid dat hy vir lank met sy mobiliteit sal sukkel weens sy bekkenbesering, is hulle ook bekommerd oor die emosionele impak wat die trauma op hom kan hê. Wanneer hy eindelik na Bloemfontein terugkeer, sal hy waarskynlik voortgesette fisioterapie en ander rehabilitasie benodig, terwyl sy familie hom tuis sal moet versorg.
Die geldelike las raak intussen al hoe groter. Die familie sal na verwagting vir verblyf, rehabilitasie en ander mediese uitgawes moet betaal. Willie sal waarskynlik ’n rolstoel, later ’n loopraam en krukke benodig, terwyl aanpassings soos relings in die badkamer ook aangebring sal moet word.

Die ongeluk het Willie se familie se lewe totaal verander. Foto verskaf
“Ons het ’n geldinsameling begin omdat ons eenvoudig nie weet wat die pad vorentoe gaan inhou nie. Enige bydrae, hoe klein ook al, sal help om Willie se behandeling en rehabilitasie voort te sit. Ons sal ook enige hulp van fisioterapeute of ander mediese kundiges waardeer wanneer hy terug is in Bloemfontein,” sê Robbie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

