On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Aanrandingsaak teen Bloemfonteinse sakevrou gaan weer voort

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:50 Tue, 14 Jul 2026

Aanrandingsaak teen Bloemfonteinse sakevrou gaan weer voort  | News Article
Franzelle Venter en Dipao Moreng. Foto: Charne van der Merwe

Die aanrandingsaak teen ’n Bloemfonteinse sakevrou gaan weer voort nadat die klaagster Dinsdag (14/7) besluit het om nie die klagte terug te trek nie.

Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, het weer in die Bloemfonteinse landdroshof voorgekom. Sy staan tereg op ’n klag van aanranding. Die volgende hofverskyning is op 13 Augustus.

Venter het aanvanklik verskyn vir ’n formele Nicro-assessering. Ná oorlegpleging met die staat het Dipao Moreng egter besluit om nie meer die klag terug te trek nie.

Met die vorige hofverskyning, Donderdag (9/7), het Moreng aanvanklik aangevier dat sy nie met die aanklag wou voortgaan nie. Die hof het daarna gelas dat Venter ’n Nicro-evaluering moet ondergaan, maar Moreng se besluit om die saak voort te sit, beteken die strafsaak sal nou verder gaan.


Die staat het destyds die evaluering versoek weens die erns van die bewerings teen Venter, ondanks die klaer se aanvanklike besluit om nie met die vervolging voort te gaan nie.

Venter, wat agt maande swanger is, se verdediging sal na verwagting om ’n verdere uitstel vra weens haar kraamdatum.

Venter het na bewering vir Moreng op 24 Oktober by haar woning in Fichardtpark aangerand. Moreng beweer Venter het haar tydens ’n rusie teen ’n sleepwa gedruk en gewurg nadat sy die perseel wou verlaat.

Sy het vroeër getuig sy het krapmerke aan die linkerkant van haar nek en aan haar borskas opgedoen en dat sy sedert die voorval werkloos is. Moreng het ook vroeër beweer sy was aanvanklik aangestel om in Venter se huis en met die kinders te help, maar dat sy later ook by haar kosonderneming moes werk.

Volgens haar het die rusie ontstaan nadat sy gevra is om verpakkingswerk oor te doen en sy geld vir vervoer gevra het toe sy die perseel wou verlaat.

Moreng het ná die vorige hofverskyning buite die hof aan OFM Nuus gesê sy wil geregtigheid sien geskied en glo Venter moet aanspreeklik gehou word vir haar optrede.

‘Ek wil hê sy moet verantwoordelikheid aanvaar’

“Niemand het haar die reg gegee om dit aan my te doen nie. Ek wil hê sy moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat sy gedoen het.”

Venter is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die aanklag is later na aanranding gewysig.

Teneal van Deventer en kandidaat-regspraktisyn Wiehan Schoeman van Horn & Van Rensburg Prokureurs tree namens haar op.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.