On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hofsaak teen sorgoordbeskuldigdes uitgestel terwyl staat nog dokumentasie versamel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:45 Tue, 14 Jul 2026

Hofsaak teen sorgoordbeskuldigdes uitgestel terwyl staat nog dokumentasie versamel | News Article
Anna Fourie, Lynette Brummer, twee van die beskuldigdes, en Bettie Payne. Foto’s: Charne van der Merwe/verskaf

Die staat se versuim om nadere besonderhede aan die verdediging te verskaf het daartoe gelei dat die Welkomse versorgingsoord-aanrandingsaak weer uitgestel is.

Een van die ses beskuldigdes, Anna Fourie (73), is intussen in die hospitaal waar sy ná ’n operasie aansterk. Sy moet op 21 Augustus saam met Lynette Brummer (64), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) weer in die Welkomse landdroshof voorkom. Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

“Ons het beswaar teen die uitstel aangeteken omdat ons reeds verdere besonderhede van die staat versoek het, maar dit nog nie ontvang het nie,” sê die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Louis Botha.

Die staat het aan die hof gesê dat die ondersoek steeds aan die gang is en dat die nodige dokumentasie en inligting nog bymekaargemaak word.


Die verdediging het versoek dat die volgende hofdatum as ’n finale uitstel aangeteken word, mits Fourie, vir wie ’n siektebrief by die hof ingedien is, teen daardie tyd terug is en al die verdere besonderhede aan die verdediging beskikbaar gestel is. Indien dit wel gebeur, sal die saak óf vir verdere konsultasie uitgestel word óf met die verhoor voortgaan.

’n Lasbrief vir Fourie se inhegtenisneming is uitgereik, maar dit sal slegs van krag word indien sy nie by die volgende hofverskyning opdaag nie.

Die ses beskuldigdes is almal voormalige werknemers van die Silver Village-versorgingsoord in Welkom. Brummer, Fourie, ’n verpleegster, en die versorgers Ngcongwane en Majorobella is op 9 Julie verlede jaar in hegtenis geneem.

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf

Nog twee versorgers, Mofolo en Moloi, is op 14 Julie aangekeer. Brummer is op 18 Julie borgtog van R5 000 toegestaan, terwyl die ander vyf beskuldigdes elk borgtog van R1 000 ontvang het.

Brummer, wat ’n senior pos by die versorgingsoord beklee het en ook ’n aandeelhouer was, word as die hoofbeskuldigde beskou, het ao. Anja Tait, die ondersoekbeampte, vroeër getuig.

Die aanklagte spruit uit beweerde voorvalle waar Bettie Payne (82) na bewering in die versorgingsoord mishandel is. Sowat 40 video-opnames is as bewysstukke ingedien.

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane, Mapaseka Majorobella, Anna Fourie en Lynette Brummer. Foto: Charne van der Merwe

Die beeldmateriaal van 7 Julie verlede jaar wys na bewering hoe Brummer Payne dwing om medikasie te neem, in haar gesig blaas, haar neus toeknyp en op haar spoeg nadat sy geweier het om die medisyne te neem. Toe Payne begin skree het, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om Payne se mond en kop gedraai.

Payne se dogter, Mariana, het kort voor die voorval ’n kamera in haar ma se kamer laat installeer nadat sy vermoed het iets is fout. Fourie, Majorobella, Ngcongwane, Mofolo en Moloi word ook in die beeldmateriaal geïmpliseer.
Fourie het na bewering die kamer met ’n selfoon binnegekom terwyl Payne om hulp geskree het, terwyl twee ander personeellede na bewering toegekyk het. Brummer word verder daarvan beskuldig dat sy Payne met ’n kombers toegemaak het, gesê het niemand sou haar hoor nie, die lig afgeskakel en die kamer verlaat het.

Die hof het die beskuldigdes vroeër gewaarsku dat die aanklagte ernstig is en dat elke aanklag ’n vonnis van tot 15 jaar tronkstraf kan meebring indien hulle skuldig bevind word.

 OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

 • Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.