On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-man beken skuld aan peuter se moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:00 Tue, 14 Jul 2026

Noordwes-man beken skuld aan peuter se moord | News Article
Kelvin Niewenhuizen. Foto verskaf

’n Man van Noordwes wat vroeër vandeesmaand skuld erken het aan die moord op ’n tweejarige, sal op 20 Augustus gevonnis word.

Carel Fouché het op 7 Julie op aanklag van moord in die Stilfontein streekhof verskyn. Hy bly in aanhouding vir voorvonnisverrigtinge.

Die moord op klein Kelvin Niewenhuizen het die gemeenskap van Stilfontein geruk nadat sy liggaam in ’n beweerde dwelmhuis ontdek is. Fouché se skulderkenning bring ’n mate van afsluiting aan die eerste fase van die regsproses, hoewel die hartseer oor die voorval steeds swaar op die gemeenskap rus, sê Portia Burrell, Matlosana-DA-raadslid.

Fouché, wat in ’n verhouding met Kelvin se ouma, Marietjie Niewenhuizen, was, is kort ná die ontdekking van die kleuter se liggaam in hegtenis geneem. Die ouma is aanvanklik ook in hegtenis geneem, maar die moordklag teen haar is in November teruggetrek en sy is vrygelaat, berig die Klerksdorp Record.

‘Dit mag nie die einde wees van aanspreeklikheid vir almal wat moontlik 
versuim het om die kleuter te beskerm nie’

 “Hoewel die skulderkenning ’n belangrike stap in die soeke na geregtigheid is, mag dit nie die einde wees van aanspreeklikheid vir almal wat moontlik versuim het om die kleuter te beskerm nie,” sê Burrell.

Die party vra vir ’n omvattende hersiening van die breër ondersoek om seker te maak dat elke persoon wat moontlik van die mishandeling geweet het, dit gesien, toegelaat, verbloem of versuim het om dit aan te meld, behoorlik ondersoek word waar geloofwaardige bewyse bestaan.

Die tragedie het ook ernstige kommer laat ontstaan oor beweerde misdaad- en dwelmaktiwiteite in die gebied. “Inwoners het herhaaldelik hul kommer uitgespreek oor beweerde kriminele bedrywighede wat vrees saai en die veiligheid van die gemeenskap ondermyn,” sê Burrell.


Sy sê Kelvin se dood moet as ’n keerpunt dien om groter aanspreeklikheid binne die hele kinderbeskermingstelsel te verseker. “Die beskerming van kinders vereis doeltreffende polisiëring, verantwoordbare maatskaplike dienste, deeglike ondersoeke en instellings wat daadwerklik optree wanneer kwesbare kinders in gevaar verkeer.”

 OFM Nuus sm

 • Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.