On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic James
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Familie eis geregtigheid ná rugbyondersteuner sterf weens uitgrawinggat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:23 Wed, 15 Jul 2026

Familie eis geregtigheid ná rugbyondersteuner sterf weens uitgrawinggat | News Article
Hugo van den Bergh. Foto verskaf

Die familie van die rugbyondersteuner van Mpumalanga wat ná die Springbokke se toets teen Skotland in ’n oop uitgrawing in Pretoria gesterf het, sê hulle gaan dit nie daar laat nie en is vasbeslote om geregtigheid te kry.

Hugo van den Bergh (51), van Secunda in Mpumalanga, het Saterdag (11/7) die wedstryd saam met sy familie op Loftus Versfeld bygewoon. Ná die wedstryd het hulle deur die groot skare gestap toe hulle besef hy is weg en aangeneem hulle het hom bloot in die skare verloor, sê Yolanda van den Bergh, sy skoonsuster.

Die familie het na die gastehuis naby die stadion teruggekeer omdat hulle geglo het hy weet waar dit is en sou daar opdaag. Toe Hugo nie terugkeer nie, het hulle bekommerd geraak en na hom begin soek, vertel Van den Bergh.

Teen Maandagaand is ’n plakkaat van die vermiste Hugo wyd op sosiale media versprei. Enkele ure later het die familie die nuus ontvang dat Hugo die man was wie se liggaam naby ’n sportterrein in Lynnwoodweg gevind is.

‘Bouwerk-afdeling was amptelik vir voertuie én voetgangers gesluit’

“Hugo was ’n saggeaarde mens wat altyd ander wou help,” sê Van den Bergh. Sy sê die familie sukkel steeds om die verlies van ’n man te verwerk wie se lewe deur vriendelikheid, vrygewigheid en deernis gekenmerk is.

Sy sê die familie werk deur die regte kanale om geregtigheid te kry.


Die Tshwane-metro het sy medelye met Van den Bergh se familie, vriende en geliefdes betuig. Die metro sê die uitgrawing vorm deel van ’n projek om ’n rioolpypleiding as deel van infrastruktuurontwikkeling te installeer.

Die betrokke gedeelte van Lynnwoodweg was voor die aanvang van die bouwerk amptelik vir voertuie én voetgangers gesluit. Die werk is doelbewus vir die skoolvakansie beplan om ontwrigting vir padgebruikers en die omliggende skoolgemeenskap tot die minimum te beperk, sê Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro.

Kennisgewings oor die padsluiting, bouwerk en alternatiewe roetes is voor die aanvang van die projek aan belanghebbendes en die publiek versprei.

Toepaslike verkeersbeheer- en veiligheidsmaatreëls is ook ingestel om toegang tot die werkgebied te beperk, sê Mashigo.

Hy sê die omstandighede rondom die voorval word deur die betrokke owerhede ondersoek en dit sal onvanpas wees om in hierdie stadium verder kommentaar te lewer.

Die VF Plus meen Van den Bergh se dood is die gevolg van ernstige nalatigheid deur die stadsraad en die kontrakteur wat vir die padwerk verantwoordelik is.


Die uitgrawings, wat op sommige plekke tussen 4 en 5 m diep is, word nie behoorlik afgesper of beveilig nie, sê Willie Spies, die VF Plus se burgemeesterskandidaat.

“Twee ander rugbytoeskouers het ook in die sloot beland. Een is met gebreekte ribbes in ’n hospitaal behandel, terwyl die ander ongedeerd daarvan afgekom het.”

Spies het sy dienste as prokureur pro bono aan Van den Bergh se familie aangebied om ’n eis teen die metro in te stel weens beweerde nalatigheid.

Die polisie ondersoek intussen die omstandighede rondom die man se dood.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

 • Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.