Central SA
Noord-Kaap neem afskeid van toegewyde raadslid, gemeenskapsman─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:26 Wed, 15 Jul 2026
’n Toegewyde gemeenskapsleier, wat bekend was vir sy dapper diens aan inwoners en sy bereidwilligheid om dag of nag in te spring wanneer hulp nodig was, word Saterdag (18/7) ter ruste gelê.
Paul van Niekerk (52), die VF Plus se wyksraadslid vir wyk 6 in Thembelihle, is Vrydag (10/7) oorlede. Hy was die party se enigste wyksraadslid in die Noord-Kaap nadat hy die wyk in die munisipale verkiesing in 2021 gewen het, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-leier in die Noord-Kaap.
Van Niekerk, wat ook as “Boer Paul” op TikTok bekend was, het op Hopetown gewoon en was ’n bekende stem vir dienslewering en die belange van inwoners. Hy het meer as 15 000 volgelinge gehad en gereeld met inwoners gekommunikeer en kommentaar gelewer oor kwessies wat sy gemeenskap geraak het.
Hy het hom egter reeds lank voor sy verkiesing as raadslid vir die gemeenskap beywer deur sy betrokkenheid by die Hopetown-inwonersforum.
Paul was geliefd in die gemeenskap. Foto verskaf
“Wanneer ’n mens aan ’n tipiese raadslid dink, dink jy nie aan Paul nie. Hy was ’n harde man met ’n baie sagte hart," sê Boshoff. Van Niekerk was iemand wat soms kras kon voorkom, maar wie se besorgdheid oor mense onmiskenbaar was. “Benewens sy werk as vervoerkontrakteur en boer het hy onverpoos gewerk om probleme in sy gemeenskap op te los.”
Hy het dikwels self ingespring wanneer die munisipaliteit nie oor die nodige hulpbronne beskik het nie. “Paul het onder meer masjinerie gereël om oorstroomde dele van Steynville te dreineer, gehelp om die hoofstraat van Hopetown te laat opknap en selfs deur die nag gewerk om watervoorsiening te help herstel wanneer pompe of toerusting onklaar geraak het,” sê Boshoff.
Die Thembelihle-munisipaliteit het intussen sy innige meegevoel met Van Niekerk se familie, vriende en die gemeenskap uitgespreek en sê sy leierskap, toewyding en passie vir plaaslike regering het ’n blywende indruk op die munisipaliteit en die gemeenskap gelaat.
Op sosiale media onthou inwoners hom as iemand wat nie net op Hopetown gewoon het nie, maar vir die dorp geleef het. Hy was ook een van die dryfkragte agter die dorp se Kwêla Dorp van die Jaar-veldtog.
“Paul het nooit gerus nie. Hy het ongelooflik hard gewerk, was baie lojaal en mense het verby sy reguit manier van praat gekyk en die goeie hart raakgesien. Sy afsterwe laat ’n groot leemte en dit is ongelooflik hartseer,” sê Boshoff.
Paul word Saterdag om 11:00 vanuit die NG Kerk Hopetown begrawe.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

