Central SA
Noord-Kaapse polisie ontmasker vermoedelike dwelmnetwerk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:41 Thu, 16 Jul 2026
Ná ’n jare lange ondersoek deur die Noord-Kaapse polisie sal vier vermeende dwelmhandelaars na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Die intelligensiegedrewe ondersoek is reeds in 2021 begin deur die eenheid se narkotikakomponent, in samewerking met misdaadintelligensie. Die ondersoek was toegespits op die ontmaskering van ’n vermoedelike dwelmhandelnetwerk wat bedrywig was in die John Taolo Gaetsewe-distrik in die Kalahari, sê brig. Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder.
Vier buitelanders (31 tot 50) is Donderdag (16/7) op Kuruman en Postmasburg in hegtenis geneem. “Die polisie het ook beslag gelê op vermoedelike mandrax en tik met ’n geskatte straatwaarde van sowat R16 000, asook bates wat vermoedelik uit misdaad verkry is,” sê Gamieldien.
’n Multidissiplinêre span het in die vroeë oggendure gelyktydige klopjagte op verskeie geïdentifiseerde persele uitgevoer. Lede van die Noord-Kaapse ondersoekeenheid na georganiseerde misdaad, Kimberley en Kuruman se honde-eenheid, die plaaslike misdaadrekordsentrum, Kuruman se openbareordepolisiëring en misdaadintelligensie het aan die operasie deelgeneem.
Tydens die ondersoek het die polisie beheerde aankope van vermoedelik onwettige dwelms met ’n geskatte straatwaarde van sowat R45 000 gedoen. Die finale fase van die operasie het gelei tot die registrasie van tien sake van dwelmhandel, asook twee bykomende dwelmverwante sake by die Kuruman- en Postmasburg-polisiekantoor.
Die vier verdagtes sal na verwagting binnekort in die landdroshowe op Kuruman en Postmasburg verskyn op aanklagte van dwelmhandel. Die ondersoek duur voort en die polisie sê verdere inhegtenisnemings is moontlik.
Lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, loof die lede wat aan die optrede deelgeneem het vir hul vasbeslotenheid en toewyding. “Operasie Dig Deep bewys polisie se verbintenis om georganiseerde misdaadnetwerke op te spoor, te ondersoek en te ontmantel, en om dwelms uit gemeenskappe te verwyder.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

