Central SA
Organiseerders verdedig Bokkieweek ná omstredenheid oor Afrikaner-toernooi─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:31 Thu, 16 Jul 2026
“Bokkieweek is nie teen iemand nie. Bokkieweek is daar vir die Afrikanerjeug.”
Só sê ds. Peter Stans, uitvoerende hoof van Bokkieweek, oor politieke kritiek op die gewilde sporttoernooi. News24 het die geleentheid as ’n “apartheid-era-toernooi slegs vir Afrikaners” beskryf.
Die organiseerders van Bokkieweek én die VF Plus het sedertdien die toernooi verdedig en beklemtoon dat dit ’n onafhanklike sportgeleentheied is wat binne die Grondwet funksioneer en sy eie finansiering reël.
Bokkieweek, wat verlede week op Mookgophong (voorheen Naboomspruit) in Limpopo aangebied is, was weereens ’n sukses. “Duisende rugby-, hokkie- en netbalspelers, sowel as ongeveer 600 beamptes en duisende ondersteuners, het die 35ste aanbieding van die sportweek bygewoon,” sê Stans.

Foto verskaf
Die toernooi bied al 35 jaar lank aan Afrikaanse kinders ’n aanvullende sportgeleentheid waar hulle hul sporttalent binne hul eie taal-, kultuur- en waarderaamwerk kan ontwikkel. Stan sê die sportweek word sonder enige staatsgeld aangebied en word moontlik gemaak deur ouers, afrigters, beamptes, borge en vrywilligers.
“Jy sien kinders wat met oorgawe speel, ouers wat hul kinders ondersteun, afrigters wat hul kennis oordra en jongmense wat mekaar respekteer. Dít is Bokkieweek en ons sal voortgaan om in die Afrikanerjeug te belê en ’n sporttuiste vir toekomstige geslagte te wees.”
Die VF Plus het ook sy steun aan Bokkieweek uitgespreek nadat Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, en Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, kritiek op die sportweek gelewer het.

Volgens News24 se berig word Bokkieweek deur Afrikaner- Volkseie Sport (AVS) aangebied, deelname is tot Afrikaners beperk en nasionale sportliggame soos SA Rugby, SA Hokkie en Netbal Suid-Afrika het hulle van die toernooi gedistansieer. Die berig verwys ook na die sing van Die Lied van Jong Suid-Afrika en spanne wat onder die name van voormalige provinsies deelgeneem het.
“Bokkieweek funksioneer as ’n selfbefondsde, vrywillige vereniging binne die burgerlike sfeer van die samelewing en nie as deel van die staat se sportstrukture nie,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus se hoofwoordvoerder oor basiese onderwys.
Die staat behoort hom tot die openbare sfeer te beperk en nie in burgerlike organisasies in te meng nie, meen hy. Die Grondwet beskerm kultuurgemeenskappe se reg om hul eie aktiwiteite aan te bied, mits niemand op grond van ras uitgesluit word nie.
“Bokkieweek ding nie met amptelike sporttoernooie mee nie en deelname behoort jong sportlui nie op ander vlakke te benadeel nie. Bokkieweek het oor 35 jaar sy bestaansreg as ’n gevestigde sportgeleentheid bewys,” sê Boshoff.
OFM Nuus cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
