Central SA
Bloemfonteinse ma kwalifiseer vir ysterman-wêreldkampioenskap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:43 Fri, 17 Jul 2026
Sy sal die Suid-Afrikaanse vlag met trots dra wanneer sy in Frankryk teen die wêreld se beste driekampatlete meeding.
Joanné Vermeulen (35), van Bloemfontein, het byna twee jaar lank haar drome opsy geskuif om op haar gesin te fokus. Nou het sy met ywer teruggekeer en haar plek tussen die wêreld se top-atlete verseker.
Sy het onlangs vir die Ironman 70.3-wêreldkampioenskap, wat op 12 September in Nice plaasvind, gekwalifiseer en sê dis ’n droom waarvoor sy jare lank gewerk het.
Haar liefde vir driekamp het in 2023 begin nadat sy foto’s van vriende by die Stronger Together Off-road Triathlon op Smithfield gesien het. Sy het besluit om self die uitdaging aan te pak, al het sy nog nooit 10 km aaneen gehardloop nie en moes sy haarself leer swem deur met ’n rek in ’n swembad te oefen.

Joanné Vermeulen en haar kinders. Foto verskaf
Hoewel haar eerste byeenkoms reeds ’n Olimpiese afstand was, sê sy die ervaring het haar laat besef waartoe haar liggaam in staat is. Van daardie dag af het sy haarself voortdurend nuwe uitdagings gestel.
Die droom om eendag aan die wêreldkampioenskap deel te neem, het ontstaan nadat sy haar eerste Ironman 70.3 in Mosselbaai voltooi het. “Ek het kort daarna uitgevind ek is swanger met my tweede kind en besluit om my sportdrome tydelik opsy te skuif,” vertel Vermeulen.
Nadat sy haar seuntjie vir byna elf maande geborsvoed het, het sy weer begin oefen. Binne drie maande het sy haar fiksheid herwin en daarna met volle oorgawe begin voorberei vir haar terugkeer na driekamp.
Toe haar naam ná die Ironman 70.3 in Durban aangekondig is as een van die atlete wat vir die wêreldkampioenskap gekwalifiseer het, kon sy skaars glo wat gebeur het.
“Ek dink nie ek besef nou nog hoe groot dit is nie. Dit is letterlik die top-atlete van Suid-Afrika wat gekies is om teen die wêreld se beste mee te ding. Ek is ongelooflik trots op hoe ver ek gekom het.”
Prestasiestelsel
Die kwalifiseringstelsel vir die Ironman 70.3-wêreldkampioenskap is onlangs aangepas. Buiten die wenners van elke ouderdomsgroep word die oorblywende plekke toegeken op grond van ’n internasionale prestasiestelsel waar atlete se tye volgens ouderdom en geslag vergelyk word.
Vermeulen het haar kwalifiserende plek by die Ironman 70.3 in Durban in Junie vanjaar losgeslaan.

Joanné Vermeulen in aksie. Foto verskaf
“Om op hierdie vlak mee te ding, verg deeglike beplanning. Gedurende die seisoen oefen ek minstens twee keer per dag met kombinasies van swem, fietsry, hardloop en gimnasiumsessies.
“Naweke sluit gewoonlik fietsritte van tussen drie en vier uur in, gevolg deur ’n hardloop- of swemsessie, terwyl Sondae uitsluitlik vir my gesin gereserveer word,” sê Vermeulen.
‘Saans ekstra ure insit’
Die beplanning strek egter veel verder as haar oefenprogram. Sy werk haar oefeninge rondom haar werk, haar man se oefenskedule en haar twee jong kinders in. Omdat sy in die familieonderneming werk, kan sy haar werkure aanpas wanneer dit nodig is, al beteken dit soms sy moet saans ekstra ure insit.
Hoewel sy haarself as ’n sterk swemmer en fietsryer beskou, sê sy hardloop bly die dissipline waarin sy die meeste wil verbeter.

Joanné en Charl Vermeulen. Foto verskaf
Van haar grootste prestasies sluit in die Skyrun 65 km, Whale Trail 35 km, verskeie Ironman-byeenkomste en vanjaar se Ironman 70.3 in Durban waar sy vir die eerste keer onder ses uur klaargemaak het.
Die pad na die wêreldkampioenskap vra egter groot opofferings. “Die moeilikste deel is die tyd wat ek saam met my kinders verloor wanneer lang oefensessies my fisiek en geestelik uitput. Gesinsuitstappies word soms uitgestel om by my oefenskedule in te pas, terwyl die sport ook ’n groot finansiële las meebring.”
Die koste om aan die wêreldkampioenskap deel te neem beloop meer as R100 000. Dit sluit in die inskrywingsfooi, vlugte, verblyf, ’n visum, vervoer van haar fiets, motorhuur, voeding en ander voorbereidingskoste.

Joanné Vermeulen hoop dat ander ma’s ook hul drome sal najaag. Foto verskaf
Om die droom moontlik te maak, het sy die “Koop ’n Kilometer”-veldtog begin. ’n Ironman 70.3 bestaan uit altesaam 113 km – 1,9 km swem, 90 km fietsry en 21,1 km hardloop – en mense of besighede kan simbolies ’n kilometer borg.
Ondernemings kry blootstelling op haar sosiale media en veldtogmateriaal, terwyl vriende en familie ook op verskillende vlakke kan bydra.
Drome
Vir haar gaan hierdie geleentheid oor veel meer as sport. “Ek verteenwoordig nie net myself nie. Ek verteenwoordig Suid-Afrika, die Vrystaat, mammas wat hul drome met gesinslewe probeer balanseer en elke persoon wat in my geglo het. Ek hoop my storie wys vir ander dat drome nie eindig wanneer die lewe verander nie.”
Sy sê haar boodskap aan ander vroue en ma’s is om nooit hul drome prys te gee nie. “Ma wees is nie die einde van jou drome nie. Dit gee jou soveel meer rede om hulle na te jaag en ’n voorbeeld vir jou kinders te wees.”

Die Vermeulen-gesin. Foto verskaf
Vermeulen, wat in administrasie en finansies by haar familie se vervoermaatskappy, Nellas Besigheidsprojekte, werk, beplan reeds haar volgende uitdagings.
“Ná die wêreldkampioenskap wil ek weer aan die Ironman 70.3 op Mosselbaai deelneem, daarna ’n volle Ironman voltooi en moontlik saam met my man, Charl, die Comrades aanpak. En dalk wag daar selfs nog ’n derde kind,” lag sy.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

