On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Party dien mosie in ná man in oop uitgrawing val

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:41 Mon, 20 Jul 2026

Party dien mosie in ná man in oop uitgrawing val | News Article
Hugo van den Berg. Foto verskaf

’n Politieke party eis binne sewe dae ’n verslag van die Tshwane-metroraad nadat ’n man ná ’n rugbywedstryd in ’n oop uitgrawing in Pretoria dood geval het.

Die VF Plus het ’n dringende mosie Woensdag (15/7) by die Tshwane-metroraad ingedien ná die dood van Hugo van der Berg (51) van Secunda. Die party vra dat die metroraad sy meegevoel met die familie betuig en ’n onafhanklike ondersoek na die voorval gelas, sê rdl. Grandi Theunissen, koukusleier.

Van den Berg het Saterdag (11/7) die Springbok-wedstryd saam met sy familie op Loftus Versfeld bygewoon.

Aanspreeklikheid

Die mosie eis dat die verantwoordelike ingenieur en kontrakteur aanspreeklik gehou word. Die party wil ook hê die betrokke kontrakteur moet op die swartlys geplaas en van toekomstige tenders uitgesluit word.

“Ons voel die slagoffers of hul naasbestaandes moet vergoed word en dat die stadsbestuurder ’n volledige ouditverslag oor alle groot konstruksieprojekte aan die raad voorlê,” sê Theunissen.

Verder eis die party Tlangi Mogale, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, moet binne sewe dae ’n verslag aan die raad voorlê oor enige administratiewe en toesigversuim, asook oor moontlike dissiplinêre stappe teen nalatige amptenare of kontrakteurs.

Theunissen beweer die konstruksieterrein waar die uitgrawing is, was nie behoorlik omhein nie. “Die voortgesette teenwoordigheid van oop en onafgesperde uitgrawings langs of in paaie is ’n ernstige skending van veiligheidstandaarde.” 

“Die metro het ’n grondwetlike verpligting om die veiligheid van sy inwoners te verseker en die VF Plus sal hierdie saak met erns en vasberadenheid deursien totdat die verantwoordelike partye tot verantwoording geroep word.”


Die party waarsku ook oor ’n gevaarlike oop gat op die hoek van Hartbeesspruit- en Richardstraat in Hatfield, naby die Universiteit van Pretoria, waar baie studente daagliks beweeg.

“Die gat hou ’n ernstige veiligheidsrisiko vir motoriste, studente en voetgangers in. Die metro is reeds herhaaldelik oor die probleem ingelig, maar die gat bly oop en ontbloot ’n hoofwaterpyp wat gedeeltelik in die ryvlak lê,” sê rdl. Anne-Marie Sparg.

“Ons doen ’n dringende beroep op die metro om veiligheidsheinings en waarskuwingstekens op te rig en die gat behoorlik op te vul. “Daar mag nie gewag word totdat nog ’n tragedie plaasvind nie.”

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.