On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Yvette
Listen Live Streams

Central SA

Parys: Verwaarloosde vleiland kry nuwe lewe as gemeenskapspark

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:45 Mon, 20 Jul 2026

Parys: Verwaarloosde vleiland kry nuwe lewe as gemeenskapspark | News Article
Die Parys Wetland Park. Foto verskaf

’n Vleiland in die Noord-Vrystaat wat jare lank deur besoedeling, onwettige storting en verwaarlosing ontsier is, word omskep in ’n veilige openbare ruimte, waar inwoners kan stap, draf, leer en die natuur geniet.

Die Parys Wetland Park-projek het die laaste paar maande groot vordering gemaak om die 40 ha groot vleiland, wat Tumahole, Schonkenville, die nywerheidsgebied en Parys verbind, te rehabiliteer. Die projek het reeds die omgewing begin herstel, werkgeleenthede geskep en die gebied omskep in ’n ruimte wat toenemend deur die gemeenskap benut word, sê Leida Schuman, koördineerder van Parys Wetland Park.

Die gemeenskapsinisiatief word deur Parys Wetland Park NPC bestuur met steun van Sasol en Damlaagte. “Die doel is om die vleiland teen verdere agteruitgang te beskerm deur besoedeling en indringerplante te bekamp, openbare toegang te verbeter en omgewingsbewustheid onder inwoners te bevorder,” vertel Schuman.

Roetes

Sedert die formele bekendstelling van die projek op 28 Februarie is ’n 1,4 km lange Rail Trail ontwikkel wat inwoners ’n veilige roete deur die vleiland bied.

Benewens dié roete is sowat 5 km stap-, hardloop- en ontspanningsroetes ontwikkel wat daagliks deur pendelaars, sportlui en natuurliefhebbers gebruik word.


Verskeie skoonmaakveldtogte is reeds aangebied, waartydens groot hoeveelhede huishoudelike afval, bourommel en indringerplante uit die gebied verwyder is. 

Terselfdertyd is plaaslike werkloses aangestel om aan die skoonmaak-, rehabilitasie- en roeteontwikkelingswerk deel te neem, wat broodnodige inkomste aan verskeie huishoudings verskaf het.

‘Ekologiese gesondheid verbeter’

Die projek plaas ook sterk klem op omgewingsopvoeding. Schuman sê tot dusver het 19 skole, meer as 6 200 leerders en sowat 140 onderwysers reeds aan opvoedkundige programme en uitstappies na die vleiland deelgeneem om meer oor bewaring en biodiversiteit te leer.

Die rehabilitasie toon reeds tasbare resultate. Meer as 500 plant- en dierspesies is in die vleiland aangeteken, terwyl die terugkeer van otters volgens die projekspan daarop dui dat die ekologiese gesondheid van die gebied besig is om te verbeter.

“Die Parys Wetland Park het ’n belangrike punt bereik. Dit het reeds bewys dat dit praktiese, sigbare impak het. Die gebied is skoner, meer toeganklik, beter bekend en word toenemend deur die gemeenskap waardeer.”

Hoewel die projek reeds sukses behaal het, bly onwettige storting, waterbesoedeling, indringerplante en beperkte befondsing uitdagings.

“Die projekspan wil nou befondsing bekom vir ’n formele Wetland-bestuursplan wat die langtermynbeskerming, instandhouding en verdere ontwikkeling van die volle 40 ha vleiland sal verseker,” sê Schuman.


“Voortgesette ondersteuning sal help om die rehabilitasieprojek verder uit te bou tot ’n volhoubare omgewings-, opvoedkundige en ontspanningsruimte wat nie net biodiversiteit beskerm nie, maar ook toerisme, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en gemeenskapstrots bevorder.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.