On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Yvette
Listen Live Streams

Central SA

Vaaldriehoek-ma soek antwoorde oor seun se moord, verdagtes vra borgtog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:30 Mon, 20 Jul 2026

Vaaldriehoek-ma soek antwoorde oor seun se moord, verdagtes vra borgtog | News Article
Sandra en Marius Stander. Foto verskaf

Vyf verdagtes, wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n pa van Vanderbijlpark vermoor het, sal na verwagting Dinsdag (21/7) om borgtog aansoek doen.

Terwyl die regsproses sy gang gaan, sê sy ma, Sandra Stander, die familie wil net geregtigheid hê en antwoorde kry oor wat werklik met haar seun gebeur het. Hulle glo nie die verdagtes se weergawe van die gebeure nie.

Mzwandile Bafana Bulwana (20), Zwelibanzi Alson Mahapa (20) en drie minderjariges staan tereg op aanklagte van moord. Die beskuldigdes beweer glo hulle het Marius Stander (35) reeds dood in sy motor aangetref, sy lewelose liggaam uitgehaal en daarna die voertuig geneem en gestroop. Die familie glo egter dat hy met ’n voorwerp teen die kop geslaan en vermoor is.

Stander, ’n vragmotorbestuurder en hoofbroodwinner van sy gesin, is op 25 Junie vermoedelik gekaap terwyl hy vroegoggend op pad werk toe was. Hy het omstreeks 04:20 sy huis in SE1 verlaat om ’n bus by ArcelorMittal te haal wat hom na sy werk by Scholtz Industrial Solutions sou neem.

Marius Stander is vermoedelik vermoor. Foto verskaf

Die familie het onraad vermoed toe hy nie later opgedaag het om sy swanger vrou, Lizelle, by die werk en hul agtjarige dogtertjie by die skool op te laai nie. Nadat hulle hom nie telefonies kon bereik nie, het hulle sy ligging deur die Life360-toepassing begin volg.

“Die sein het hulle na Spider Valley, die beboste gebied tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, gelei waar Marius se swaer op sy liggaam afgekom het. Videomateriaal wat die familie later ontvang het, wys hoe Marius met sy wit Toyota Tazz in Louis Trichardt-boulevard ry voordat hy glo in CE6 gekaap is,” sê Sandra.

Op die beeldmateriaal kan mense glo om die voertuig gesien word. Sy gekaapte Toyota Tazz is later in Sharpeville opgespoor waar dit reeds uitmekaar gehaal is.

Lizelle en Marius Stander by hul dogter. Foto verskaf

“Lizelle moet die verlies van haar man verwerk terwyl sy 19 weke swanger is met hul tweede kind,” sê Sandra. “Dit was hartverskeurend toe Lizelle hul agtjarige dogtertjie moes vertel dat haar pa nooit weer huis toe sal kom nie.” Sy sal op 27 Julie tydens haar volgende sonar die geslag van die baba uitvind. Die keisersnee is reeds op 13 Desember bespreek.


Die familie het ’n geldinsameling begin vir finansiële ondersteuning. Sandra sê: “Marius se mediese fonds sou die geboorte van hul baba in ’n privaat hospitaal gedek het. Ná sy dood bestaan dié dekking egter nie meer nie, en die familie wil alles moontlik doen om te verseker dat Lizelle steeds hul baba in ’n privaat hospitaal kan verwelkom eerder as in ’n staatshospitaal,” sê Sandra.

“Geen gesin behoort ooit so ’n verpletterende verlies te ervaar nie. Ons wil net geregtigheid hê en weet wat regtig met Marius gebeur het.” Sandra sê haar seun was ’n saggeaarde mens wat altyd bereid was om ander te help. “Hy sou sy laaste met iemand deel, al het hy self byna niks gehad nie. Dit was net die soort mens wat Marius was.”

Marius is op 3 Julie begrawe. Die verdagtes sal in die streekhof in Vereeniging verskyn, sê kapt. Tintswalo Sibeko, provinsiale polisiewoordvoerder. 

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.