Central SA
Vrystaatse DA eis antwoorde ná inbraak by Ou Presidensie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:57 Mon, 20 Jul 2026
’n Vrystaatse party eis antwoorde nadat geskiedkundige beelde en ander waardevolle artefakte tydens ’n inbraak by die Ou Presidensie-museum in Bloemfontein gesteel is.
Die DA sê hy gaan die Vrystaatse departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning in die provinsiale wetgewer tot verantwoording roep oor die veiligheidsmaatreëls by die Ou Presidensie-museum. Die departement moet aanspreeklik gehou word vir die ernstige veiligheidsmislukking ná die diefstal van onvervangbare erfenisvoorwerpe, sê Werner Pretorius, DA-lid van die Vrystaatse Wetgewer en die party se burgemeesterskandidaat in die Mangaung-metro.
“Die DA is geskok oor die departement se onvermoë om die provinsie se kultuurerfenisbates te beskerm.”
Die bronsborsbeelde van die laaste twee presidente van die Vrystaat, F.W. Reitz en M.T. Steyn, is tydens die inbraak uit die museum gesteel. Die voorval het vermoedelik op 4 of 5 Julie plaasgevind, en die diefstal is die Maandag ontdek toe personeel by die museum aangekom het.

Die hek by die museum is ook beskadig. Foto verskaf
Die diefstal is veel meer as die verlies van waardevolle voorwerpe, hy sê. “Dit is die verlies van die Vrystaat se geskiedenis en kulturele erfenis wat vir toekomstige geslagte bewaar moes word. Wanneer kultuurerfenisbates nie behoorlik beskerm word nie, verloor inwoners en besoekers die geleentheid om die provinsie se geskiedenis te ervaar.”
Die departement bestuur twaalf provinsiale museums in die Vrystaat. In antwoord op ’n DA-vraag in 2024 het Limakatso Mahasa, destydse LUR, bevestig dat dié museums deur dag- en nagskofsekuriteit beman word.
Die inbraak by die Ou Presidensie laat egter ernstige vrae ontstaan oor die doeltreffendheid van dié veiligheidsmaatreëls en of die departement sy eie veiligheidsprotokolle behoorlik toepas en monitor, sê Pretorius.
Die DA sal in die wetgewer volledige antwoorde eis oor die veiligheidsgebreke wat tot die inbraak gelei het. Die party wil ook hê ’n omvattende hersiening van veiligheidsmaatreëls by al twaalf provinsiale museums moet gedoen word om die Vrystaat se kultuurerfenis beter te beskerm.
“Die provinsie se erfenisbates kan, met politieke wil en goeie bestuur, ’n belangrike rol speel in onderwys, nasiebou, ekonomiese groei en werkskepping,” sê Pretorius.
Hy vra eienaars van gebruiktegoederewinkels en skrootwerwe moet uitkyk vir die gesteelde artikels en die polisie onmiddellik in kennis te stel indien hulle dit opspoor.

Die vullis buite die museum. Foto verskaf
Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse Wetgewer, sê die inbraak is nóg ’n bewys dat die ANC-regering nie daarin slaag om die provinsie se erfenis te beskerm nie.
“Die Ou Presidensie is reeds jare lank onderbefonds en die infrastruktuur word nie behoorlik in stand gehou nie,” sê Cloete. “Die inbraak wys hoe diep misdaad reeds in alle aspekte van die samelewing ingegrawe is.”
Die inbraak is ’n skande. Die artikels in die Ou Presidensie was van onskatbare waarde en is nou vir toekomstige geslagte verlore. “Dit is duidelik dat ons erfenisskatte nie deur die onbekwame owerhede beskerm kan word nie.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

