Central SA
Virginia: WOW-konferensie bring hoop vir vroue─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:41 Tue, 21 Jul 2026
Vroue voer dikwels hul grootste stryd in stilte teen angs, depressie, finansiële druk, trauma, siekte en die gevoel dat hulle nooit goed genoeg is nie.
Dit is juis hierdie onsigbare gevegte wat die inspirasie is vir die Warriors of War (WOW) Women’s Day Conference, waar vroue bymekaar sal kom vir ’n dag van hoop, genesing en bemoediging. Die konferensie is toegespits op vroue se emosionele, geestelike en liggaamlike welstand, sê Chantél van den Berg van Hands of Grace & Kindness NPC.
“Dis belangrik om na die mens as ’n geheel om te sien. ’n Mens kan nie net een deel van ’n persoon gesond maak nie. As jou liggaam moeg is, raak dit jou emosies.
“As jou hart stukkend is, beïnvloed dit jou geloof. En as jou geloof swaarkry, raak dit elke ander deel van jou lewe. Ons wil hê vroue moet weet dat hulle as ’n geheel waardevol is.”

Die tema “Warriors of War” dra vir haar ’n diep persoonlike betekenis. “Ek weet hoe dit voel om vir jou lewe te veg. Ek het self ’n massiewe saal-longembolisme oorleef nadat drie interniste nie gedink het ek sou dit maak nie.
“Ek het ook maande lank siek gelê, operasies ondergaan en elke dag net op God se genade vertrou. Daarom glo ek elke vrou dra ’n vegter binne haar. ’n (kryger) veg nie uit haar eie krag nie – sy veg op haar knieë, met geloof, hoop en God aan haar kant,” sê Van den Berg.
Sy glo baie vroue dra hul pyn alleen terwyl hulle steeds vir hul gesinne en ander mense sorg. Hulle glimlag, maar binne is hulle moeg. “Warriors of War” is ’n herinnering dat elke vrou ’n vegter is. Nie omdat sy nooit val nie, maar omdat sy telkens weer opstaan met God aan haar sy.”
Nuwe begin in Christus
Van den Berg hoop elke vrou sal ná die konferensie met hernieude moed huis toe gaan. “Ek hoop elke vrou stap daar uit met die wete: ‘Ek is nie alleen nie. Ek is geliefd. Ek het waarde. God is nog nie klaar met my nie.
“Ons verlede bepaal nie ons toekoms nie. Daar is altyd hoop, genesing en ’n nuwe begin in Christus.”
Een van die hoofddoelwitte van die konferensie is om ’n veilige ruimte te skep waar vroue hul laste vir ’n oomblik kan neersit. “Ons bid dat elke vrou sal lag, huil, aanbid en besef sy hoef nie alleen te veg nie. Soms verander een gesprek, een gebed of een drukkie ’n lewe vir altyd.”

Benewens inspirerende sprekers, lofprysing, verversings en geleenthede om nuwe vriendskappe te bou, sal daar ook ’n DKMS-beenmurgskenkerregistrasie wees waar gesonde persone tussen 16 en 55 jaar hulself as moontlike skenkers kan registreer.
Die konferensie dien ook ’n groter doel. Van den Berg sê 100% van die opbrengs word aangewend om Hands of Grace & Kindness se nuwe sopkombuis en voedingskema op Virginia te ondersteun.
“Terwyl ons daagliks in die gemeenskap werk, sien ons die geweldige behoefte – nie net aan kos en fisieke hulp nie, maar ook aan emosionele en geestelike ondersteuning. Elke kaartjie wat gekoop word, help nie net om ’n vrou se lewe aan te raak nie, maar maak dit ook moontlik om kos op die tafels van behoeftige gesinne te sit.”
Hands of Grace & Kindness het reeds hande gevat met Revelation Family Church om die voedingsprojek op Virginia uit te brei, met die doel om gesinne op ’n volhoubare manier te ondersteun.
“Die droom is dat die WOW-konferensie ’n jaarlikse instelling sal word. Ons wil hê dit moet elke jaar groter groei en ’n plek wees waar vroue van oral af saamkom om nuwe krag en inspirasie te ontvang.
“Ons droom is om aan te hou om gemeenskappe te dien, mense te voed, mediese fondsinsamelings te ondersteun, noodleniging te doen en hoop te bring waar mense voel daar is geen uitweg nie.”
Hoewel finansies die grootste uitdaging bly, sê sy die ondersteuning uit die gemeenskap gee haar moed. “Elke borg, elke kaartjie wat verkoop word, elke gebed en elke persoon wat besluit om betrokke te raak, herinner my dat daar nog ongelooflik baie goeie mense is.
“Dit bevestig vir my elke dag dat wanneer God ’n droom gee, voorsien Hy ook die mense wat help om daardie droom ’n werklikheid te maak.”
Swalukrans
Die WOW Women’s Day Conference vind op Sondag 9 Augustus van 10:00 tot 14:00 by Swalukrans op Virginia plaas. Kaartjies kos R150, wat ’n peuselhappieboks insluit.
“Together We Overcome. Dit is nie net Hands of Grace & Kindness se leuse nie, maar die boodskap wat sy hoop elke vrou op 9 Augustus saam huis toe sal neem,” sê Van den Berg.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

