Central SA
Liggame van twee Welkom-babas ontstel gemeenskap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:34 Tue, 21 Jul 2026
Die ontdekking van twee babaliggame in afsonderlike voorvalle in Welkom het skok en ontsteltenis in die gemeenskap veroorsaak.
In die eerste geval is die liggaam van ’n pasgebore baba op 7 Junie na bewering in ’n vullisdrom in Northern Park, Doorn, gevind. Byna ’n maand later (4/7) het ’n hond glo die liggaam van ’n ander baba na ’n woonstelkompleks in Rheederpark gebring.
Volgens sers. Palesa Thabana, Vrystaatse polisiewoordvoerder, is die ontdekking van die tweede lykie omstreeks 14:39 by die Boshoff-woonstelle aangemeld, nadat ’n lid van die publiek die polisie ontbied het. Volgens getuienis het ’n hond die baba se liggaam na die kompleks gebring.
“Albei voorvalle word as afsonderlike geregtelike doodsondersoeke ondersoek,” sê Thabana.
In ’n afsonderlike voorval in Julie 2024 in eMalahleni, Mpumalanga, het ’n hond gehelp om die lewe van ’n verlate pasgebore baba te red. Die hond, Chinika, het haar bejaarde eienaar, Emily Silala, se aandag gevestig op ’n handsak wat sy by die erf ingedra het.
Toe Silala die sak oopmaak, het sy tot haar verbasing ’n pasgebore dogtertjie gevind wat in ’n kombers toegedraai was, steeds lewendig.
Die baba is dadelik na die hospitaal geneem vir mediese sorg, terwyl die polisie en maatskaplike werkers ’n ondersoek van stapel gestuur het. Chinika is geloof vir haar instink en optrede, wat waarskynlik die baba se lewe gered het.
Volgens die Kinderwet (Wet 38 van 2005) is daar wettige maniere waarop ouers wat nie vir ’n baba kan sorg nie, hulp kan kry. Die departement van maatskaplike ontwikkeling, ’n maatskaplike werker of ’n hospitaal kan bystand bied om die baba veilig in alternatiewe sorg of vir aanneming te plaas.
Om ’n baba bloot agter te laat, stel sy of haar lewe in gevaar. Enigiemand met inligting wat die polisie met die ondersoeke kan help, word versoek om ao. Tseliso Nthaba by 083 525 3771 te bel of Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus mvh
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

