On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat se enigste vereniging vir blindes kort dringend hulp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:10 Wed, 22 Jul 2026

Vrystaat se enigste vereniging vir blindes kort dringend hulp | News Article
Ter illustrasie. Foto: iStock

Vir byna ’n eeu lank dien die Vereniging vir Blindes Bloemfontein as ’n reddingsboei vir blinde en swaksiende mense dwarsoor die Vrystaat.

Maar dié reddingsboei is nou self besig om te sink weens ernstige geldnood en ’n toenemende behoefte aan sy dienste. Die getal mense wat met ernstige sigverlies leef, neem al hoe meer toe. 

Nog ontstellender is die toenemende getal babas en jong kinders wat blind gebore word of vroeg in hul lewe hul sig verloor, sê Marianne Kruger, wat reeds 20 jaar by die vereniging betrokke is.

‘Grootste uitdaging in bykans 100-jarige bestaan’

Die organisasie staan voor die grootste uitdaging in sy bykans honderdjarige bestaan. Sonder dringende finansiële ondersteuning sal hy moontlik sy deure moet sluit, wat honderde kwesbare mense sonder noodsaaklike dienste sal laat, waarsku Kruger.

Die vereniging bestaan sedert 1929 en is die enigste organisasie in die Vrystaat wat omvattende dienste aan blinde en swaksiende mense lewer. Die hoofdoel is om hulle met opleiding, ondersteuning en geskikte hulpmiddels so onafhanklik moontlik te maak.

Die dienste sluit maatskaplike ondersteuning, oriënterings- en mobiliteitsopleiding, assessering van lae visie en hulpmiddels soos praathorlosies en vergrootglase in. Die vereniging help ook met Sassa-toelaes, terwyl maandelikse ondersteuningsgroepe lede die geleentheid bied om te sosialiseer, ervarings te deel en mekaar te ondersteun.

“Hierdie ondersteuningsgroepe is vir baie lede hul enigste geleentheidom uit die huis te kom. Baie leef geïsoleerd, en die groepe bied hulle ’n kans om nuwe dinge te leer en weer deel van ’n gemeenskap te voel,” sê Kruger.

‘Ontvang al hoe meer navrae oor blinde babas’

Wat haar die meeste bekommer, is die groeiende aantal ouers wat hulp soek nadat hul babas blind gebore is. Die vereniging ontvang al hoe meer navrae oor blinde babas en help ouers om die aanvanklike skok en onsekerheid te hanteer.

Die vereniging leer ouers hoe om hul kinders te stimuleer en by die uitdagings van blindheid aan te pas. “Dit is oorweldigend om skielik te hoor jou baba is blind. Ouers weet dikwels nie waar om te begin nie, en dit is waar ons dienste van nut is.”

Hoewel die behoefte aan dienste groei, neem die finansiële drukvoortdurend toe. Foto verskaf

Benewens rehabilitasiedienste spits die vereniging hom ook toe op die voorkoming van blindheid. Sedert 2012 besoek personeel saam met oogkundiges laerskole, veral in townships, waar kinders vir oogprobleme gekeur en vir verdere ondersoeke of behandeling verwys word.

Vroeë behandeling kan sigverlies voorkom

Kinders wat brille benodig, word waar moontlik deur die vereniging se projek ondersteun. Vroeë opsporing en behandeling kan ’n groot verskil maak aan ’n kind se ontwikkeling, skoolprestasie en lewensgehalte en in sommige gevalle verdere sigverlies voorkom.

Hoewel die behoefte aan dienste groei, neem die finansiële drukvoortdurend toe. Donasies het ná die Covid-19-pandemie drasties afgeneem, erflatings het feitlik opgedroog, en die staatsubsidie is volgens Kruger onvoldoende om die organisasie se maandelikse bedryfskoste te dek.


Projekfondse is soms beskikbaar, maar mag nie vir daaglikse uitgawes soos huur, telefone, brandstof en salarisse gebruik word nie. “Dit sal ’n bitter hartseer dag wees as ons sluit, want niemand anders in die Vrystaat lewer hierdie omvattende dienste nie.”

‘Blindes wat nog nooit voorheen hulp ontvang het nie’

Die vereniging ontdek ook gereeld blinde mense wat nog nooit enige hulp ontvang het nie. Sowat 20 mense is onlangs in Thaba Nchu geïdentifiseer wat voorheen geen ondersteuningsdienste ontvang het nie, en elke uitreikaksie beklemtoon volgens Kruger hoe omvangryk die nood werklik is.

Hoewel finansiële bydraes noodsaaklik is, kan die publiek ook niebederfbare voedsel, mans-, vroue- en kinderklere vir die klerebank, borgskappe en gereelde maandelikse donasies skenk. Sodanige bydraes verminder uitgawes en laat meer geld beskikbaar vir noodsaaklike dienste.

Die vereniging ontdek ook gereeld blinde mense wat nog nooit enige hulp ontvang het nie. Foto: iStock

“As genoeg mense net ’n klein bedrag elke maand bydra, sal dit ’n ongelooflike verskil maak. Help asseblief om die organisasie aan die gang te hou, want as ons verdwyn, is daar niemand anders om dié mense by te staan nie,” sê Kruger.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.