On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bruin kraanwater laat inwoners, ondernemings op Douglas swaarkry

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:16 Thu, 23 Jul 2026

Bruin kraanwater laat inwoners, ondernemings op Douglas swaarkry | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Inwoners van Douglas kan binnekort verligting ervaar ná maande van verkleurde kraanwater, nadat ’n politieke party die munisipaliteit gevra het om sy tegniese kapasiteit vir waterbestuur te versterk.

Die DA het Madoda Vilakazi, die munisipale bestuurder van die Siyancuma-munisipaliteit, versoek om dringend tegniese kundigheid te bekom om die bestuur van die dorp se watervoorsiening te verbeter. Inwoners sukkel volgens die party sedert Mei met bruin kraanwater, hoewel die waternetwerk herhaaldelik gespoel is, sê raadslid Lemfvia van Niekerk.

Die gekleurde water raak nie net huishoudings nie, maar ook plaaslike ondernemings. Gastehuise moes onder meer beddegoed, handdoeke en ander wasgoed vervang nadat dit permanent deur die bruin water gevlek is.

“Die grootste las is egter deur inwoners van Bongani, Breipaal en Riemvasmaak gedra. Baie mense in hierdie gemeenskappe kan nie gebottelde water bekostig nie en moes wag totdat die sediment in die water afgesak het voordat dit gebruik kon word,” sê Van Niekerk.

Die party het die munisipaliteit glo herhaaldelik versoek om die oorsaak van die probleem te ondersoek, aangesien die spoel van die pype alleen nie die probleem sou oplos nie.

“Ons het verlede week die Noord-Kaapse kantoor van die departement van water en sanitasie om hulp genader nadat watergehaltetoetse tydelik opgeskort is weens die sluiting van die plaaslike toetslaboratorium,” sê sy.

“Die departement het daarna bevestig dat die munisipaliteit ’n moontlike fout in die spoelstelsel (flush-back system) geïdentifiseer het. Die stelsel is sedertdien ontkoppel en die munisipaliteit monitor tans die watergehalte om vas te stel of die probleem opgelos is.”

Hoewel die DA die ontwikkeling verwelkom, sê die party dit is onaanvaarbaar dat dit maande geneem het om wat blykbaar ’n eenvoudige meganiese fout was, te identifiseer. Dit dui op ’n gebrek aan tegniese kapasiteit in die bestuur van een van die munisipaliteit se belangrikste diensleweringsfunksies.


“Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit om voortgesette tegniese ondersteuning van die provinsiale departement te kry totdat voldoende interne kundigheid opgebou is.

“Toegang tot skoon en veilige drinkwater is ’n basiese reg, en geen gemeenskap behoort maande lank sonder betroubare water van goeie gehalte te wees nie,” sê Van Niekerk.

Margarette Adams, kommunikasiehoof van die munisipaliteit, sê by navraag hulle is besig om ’n amptelike verklaring voor te brei en sal dit verskaf sodra dit gefinaliseer is. “Daar is reeds werk aan die waterinfrastruktuur gedoen en verdere besonderhede sal in die verklaring ingesluit word.”

OFM Nuus

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.