Central SA
Vrystaatse polisie vra publiek se hulp ná gewapende rooftog in Welkom─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:03 Thu, 23 Jul 2026
Die Vrystaatse polisie vra die publiek se hulp om vier mans te identifiseer wat inligting kan hê oor ’n gewapende rooftog by ’n kleinhandelaar in Welkom.
Die rooftog het Woensdag (22/7) omstreeks 10:00 by ’n winkel op die hoek van Bok- en Muizenstraat plaasgevind. Die polisie het foto’s, geneem van kringtelevisiebeeldmateriaal, van vier mans uitgereik wat moontlik met die ondersoek kan help.
Die winkelbestuurder (49) was besig om ’n kliënt by ’n betaalpunt te help toe ’n onbekende man haar genader het.
“Die verdagte het glo aan die bestuurder gesê hy is ‘daar om te werk’ en geëis dat sy saamwerk en die geld uit die kasregister oorhandig. Toe sy verduidelik dat daar geen geld in haar kasregister was nie, het hy haar beveel om ’n kollega se kasregister oop te maak,” sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die verdagte het met ’n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug. Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad ondersoek die saak.

Enigiemand wat die mans op die foto’s herken of enige inligting oor die voorval het, word versoek om speursers. Mogeseng Thuroe by 069 197 2252 te bel. Inligting kan ook anoniem aan Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-toep deurgegee word.
Intussen is die polisie in Welkom ook op soek na enigeen wat inligting het nadat twee babaliggame in afsonderlike voorvalle in die dorp aangetref is.
In die eerste geval is die liggaam van ’n pasgebore baba op 7 Junie na bewering in ’n vullisdrom in Northern Park, Doorn, gevind. Byna ’n maand later, op 4 Julie, het ’n hond glo die liggaam van nog ’n baba na ’n woonstelkompleks in Rheederpark gebring.
Volgens sers. Palesa Thabana, Vrystaatse polisiewoordvoerder, is die ontdekking van die tweede baba se liggaam omstreeks 14:39 by die Boshoff-woonstelle aangemeld nadat ’n lid van die publiek die polisie ontbied het.
“Albei voorvalle word as afsonderlike geregtelike doodsondersoeke ondersoek,” sê Thabana.
• Het jy’ n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
