On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Jou identiteit is goud werd vir misdadigers

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:28 Thu, 23 Jul 2026

Jou identiteit is goud werd vir misdadigers | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Gesteelde identiteit kan jou finansies verwoes, jou met skuld laat, jou kredietrekord beskadig en jou selfs met misdaad verbind wat jy nooit gepleeg het nie.

In Suid-Afrika se groeiende kubermisdaadlandskap het persoonlike inligting een van die waardevolste kommoditeite vir georganiseerde misdaadsindikate geword. Identiteitsdiefstal is lankal nie meer iets wat net in Hollywood-flieks of deur internasionale kubermisdadigers gebeur nie.

Privaat speurder Mike Bolhuis sê dit is een van die vinnigste groeiende vorms van bedrog in Suid-Afrika. Misdadigers teiken al hoe meer gewone landsburgers met slenters, databreuke en sosiale manipulasie.

“Die identiteitverwante misdade het die afgelope dekade skerp toegeneem en word dit gereeld verbind met georganiseerde misdaad, finansiële bedrog, geldwassery, voertuigfinansieringsbedrog, mensehandel en ander ernstige misdade.

“Wat baie mense nie besef nie, is dat misdadigers nie meer jou beursie hoef te steel om jou identiteit te steel nie,” sê Bolhuis. “Hulle versamel eenvoudig stukkies van jou persoonlike inligting totdat hulle ’n volledige profiel van jou kan saamstel wat vir bedrog gebruik kan word.”

Baie Suid-Afrikaners glo identiteitsdiefstal beteken iemand steel jou identiteitsdokument, maar jou identiteit bestaan uit veel meer as net jou ID.

“Misdadigers is op soek na persoonlike inligting soos jou ID-nommer, paspoort, bestuurderslisensie, bankbesonderhede, selfoonnommer, e-posadres, woonadres, belastingnommer, siekefondsbesonderhede, salarisinligting, werkgewer, biometriese data, foto’s, elektroniese handtekeninge en selfs stemopnames.

Vir georganiseerde misdaadsindikate het elke stukkie persoonlike inligting ’n geldwaarde. Foto: iStock

“Vir georganiseerde misdaadsindikate het elke stukkie persoonlike inligting ’n geldwaarde,” sê Bolhuis.

Identiteitsdiefstal het wêreldwyd een van die winsgewendste vorms van georganiseerde misdaad geword. Bolhuis sê ’n gesteelde identiteit word selde net een keer gebruik.

Volledige identiteitsprofiele word dikwels herhaaldelik aan verskillende misdaadgroepe verkoop. Hierdie pakkette, wat in kubermisdaadkringe as “Fullz” bekend staan, bevat genoeg geverifieerde inligting om slagoffers by banke, staatsdepartemente en ander instellings suksesvol na te boots. “Hoe vollediger die profiel is, hoe meer werd is dit,” sê hy.

‘Misdadigers gebruik verskeie metodes om persoonlike inligting te bekom’

Die meeste slagoffers besef eers hul persoonlike inligting is gesteel wanneer lenings in hul naam uitgeneem word, bedrieglike rekeninge geopen word of hulle finansiële verliese begin ly.

Bolhuis sê misdadigers gebruik verskeie metodes om persoonlike inligting te bekom. “Misdadigers bekom persoonlike inligting deur phishing-e-posse wat voorgee om van banke, SAID, versekeringsmaatskappye of koerierdienste te kom, asook deur SMS-bedrog (smishing) oor bankprobleme, belastingterugbetalings, pakkie-aflewerings of verkeersboetes wat slagoffers na vals webtuistes lei.”

Nog metodes is deur telefoonbedrog (vishing), waar bedrieërs hulle voordoen as polisielede, bankamptenare, versekeringsondersoekers of staatsamptenare om vertroulike inligting te bekom.

Daarby stel databreuke by ondernemings, banke, hospitale en staatsdepartemente miljoene mense se persoonlike inligting bloot. Oormatige blootlegging van persoonlike besonderhede op sosiale media, verlore of onbehoorlik weggegooide dokumente en selfs oneerlike werknemers wat kliëntedata aan misdaadsindikate verkoop, wakker identiteitsdiefstal verder aan.

Volgens Bolhuis het banke en staatsdepartemente hul sekuriteit aansienlik verbeter, wat vervalste dokumente moeiliker maak om te gebruik.

Misdadigers gebruik gesteelde identiteite om lenings te bekom. Foto: iStock

“Egte identiteite slaag egter deur hierdie verifikasiestelsels,” sê hy. Misdadigers gebruik gesteelde identiteite om lenings aan te vra, bankrekeninge oop te maak, maatskappye te registreer, selfoonkontrakte uit te neem en langtermynbedrog te pleeg sonder om onmiddellik agterdog te wek.

“Jou persoonlike inligting is vandag een van die waardevolste hulpmiddels vir georganiseerde misdaad. Hoe beter jy dit beskerm, hoe kleiner is die kans dat jy die volgende slagoffer van identiteitsdiefstal word,” waarsku Bolhuis.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.