Central SA
Welkom: Ses jaar lange hofstryd eindig in tronkstraf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:23 Fri, 31 Jul 2026
Ná byna ses jaar van regsgevegte het die emosies hoog geloop toe die voormalige Goudveldse polisieman en sy vrou eindelik hul vonnisse moes aanhoor.
Die streekhof in Welkom het Donderdag (30/7) beslis dat Daniel Fourie vyf jaar direkte gevangenisstraf moet uitdien. Sy vrou, Anna Francina, is tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis.
Die egpaar is op 7 April skuldig bevind aan meer as 1 150 aanklagte, waaronder intimidasie, kwaadwillige saakbeskadiging, crimen injuria, laster en verwante misdrywe. Die saak spruit voort uit ’n langdurige vete met die broers Manny en José Jardim.

Die Jardim-broers is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf
Daniel is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding, terwyl Anna se borgtog tot met vonnisoplegging verleng is om reëlings vir die egpaar se gestremde seun (34) te tref.
Die hofverrigtinge het egter begin met ’n aansoek van die verdediging waarin versoek is dat die media nie verder oor die saak berig nie. Die verdediging het aangevoer persoonlike inligting oor die egpaar se gestremde kind is in vorige berigte openbaar gemaak. Dié inligting hoort nie in die openbare domein nie.
Landdros Marionette Kirsten het die aansoek van die hand gewys en gesê al die inligting wat tydens die hofverrigtinge aangebied word, kan ook in die klagstaat vervat word, waartoe die media toegang het.

Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie by die hof. Foto: Charne van der Merwe
Tydens betoog oor vonnis het staatsadvokaat Allen Simpson aangevoer die hof moet die kumulatiewe uitwerking van die meer as 1 150 misdrywe in ag neem. Die staat het die saak beskryf as ’n goed beplande en volgehoue veldtog van teistering teen ’n Portugese familie wat oor meer as vyf jaar gestrek het.
Volgens die staat het die slagoffers jare lank onder voortdurende vrees, emosionele trauma en reputasieskade geleef as gevolg van herhaalde intimidasie, lasterlike graffiti, kwaadwillige saakbeskadiging en openbare vernedering. Die vervolging het verder aangevoer dat die beskuldigdes geen berou getoon of verantwoordelikheid vir hul optrede aanvaar het nie.

Adv. Allen Simpson en Ben Strydom, ondersoekbeampte. Foto: Charne van der Merwe
Die egpaar het aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnis ingedien. Die hof het die beslissing oor dié aansoek tot 17 Augustus uitgestel, sodat die landdros kan oorweeg of daar redelike vooruitsigte op sukses bestaan voordat besluit word of verlof tot appèl toegestaan sal word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
