On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes soek ná dubbele moord op Virginia

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:27 Fri, 31 Jul 2026

Verdagtes soek ná dubbele moord op Virginia | News Article
Dawie en Fanie Fourie. Foto: Facebook

Niemand is nog in hegtenis geneem ná die wrede moord op ’n pa en sy seun op die Vrystaatse Goudveld nie.

Fanie Fourie (68) en sy seun, Dawie (40), is Donderdag (30/7) in ’n buitekamer op die erf van hul woning in Tulbaghstraat, Virginia, aangetref. ’n Anonieme bron het die name van die slagoffers aan OFM Nuus bevestig.

Die twee mans, wat Maandag (27/7) as vermis aangemeld is, is met hul hande en voete vasgebind aangetref, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Een van die slagoffers is met plastiek oor sy kop gevind, terwyl die ander na bewering met ’n draad om die nek verwurg is. Daar was ook bloed op die vloer, en albei is op die toneel dood verklaar.”

Bure en private veiligheidsbeamptes het die perseel deursoek nadat die pa en seun vir ’n geruime tyd vermis was. “Hulle het toegang tot die buitekamer verkry, waar die twee slagoffers gevind is,” sê Palesa.

Die eenheid vir moord en roof in Thabong ondersoek ’n moontlike huisroof as motief vir die aanval. ’n Silwerkleurige Hyundai Getz met registrasienommer DNK 369 FS, wat aan die slagoffers behoort het, word ook vermis.

Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagte of verdagtes op te spoor, word versoek om die moord-en-roof-eenheid by 082 806 8432 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. Anonieme wenke kan ook met ’n slimfoon na die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.


Geen wagtydperk

Daar is geen wagtydperk om ’n persoon as vermis aan te meld nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms.

  • Indien moontlik, verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon.
  • Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aangehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
  • Vul die polisie se 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
  • Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting direk aan hom of haar.
  • As ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis.
  • Die polisie se 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel sodat die vermiste persoon se naam uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

 * Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.