On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Yvette
Listen Live Streams

Central SA

Geliefde Vrystaatse onderwyser gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:36 Sat, 01 Aug 2026

Geliefde Vrystaatse onderwyser gegroet | News Article
Jan Louis van der Ryst was ’n geliefde onderwyser. Foto verskaf

’n Geliefde mentor en opvoeder wat die harte van honderde leerders, ouers en kollegas geraak het se gedenkdiens word Saterdag (1/7) gehou.

Sy afsterwe het die Jacobsdal-gemeenskap in rou gedompel. Familie, vriende en oudleerders sal by sy gedenkdiens byeengekom om hul laaste eer te betoon.

Jan Louis “Worsman” van der Ryst (36) is op 19 Julie oorlede en die gedenkdiens vind om 11:00 by die NG Kerk Jacobsdal plaas. Hy word onthou as ’n mentor, vriend en inspirasie wat ’n blywende indruk op die lewe van talle jong mense gemaak het.

“Die Hoër Landbouskool Jacobsdal en die onderwysgemeenskap het ’n besonderse mens verloor,” sê Eduard Potgieter, skoolhoof.

Van der Ryst, wat op 14 Julie sy 36ste verjaardag gevier het, was 13 jaar lank aan die skool verbonde. Hy het Afrikaans en drama onderrig, was die skool se woordvoerder, asook die koshuisvader.

Potgieter sê Van der Ryst was veel meer as net ’n opvoeder. Hy was die hartklop van Landboudal wat met sy energie, kreatiwiteit en geesdrif ’n blywende verskil gemaak het.

“As koshuisvader was hy ’n standvastige anker en vir honderde seuns ’n veilige hawe. Hy was die dryfkrag agter jare lange koshuistradisies, het vertroos waar daar verlange was en dissipline met ’n regverdige en liefdevolle hand toegepas,” sê Potgieter.

Landboudal rou oor man wat ‘hartklop en siel’ van skool was | News Article

Jan Louis van der Ryst. Foto: Facebook

Sy broer, die sanger Willem van der Ryst, beskryf hom as iemand wie se afwesigheid vir altyd gevoel sal word.

“Daar is mense wat ’n vertrek vul wanneer hulle instap en daar is mense wat ’n leemte los wat nooit weer gevul kan word wanneer hulle weg is nie. Jy was daardie mens, Worsman.”

Hy sê sy broer was lief vir mense wat altyd tyd gehad het vir n geselsie, ’n lag, ’n lied of ’n helpende hand.

Jan Louis van der Ryst is byna ’n week ná sy verjaardag oorlede. Foto verskaf

“Ek wens jy kon net vir een oomblik sien hoeveel mense se lewe jy aangeraak het en hoe ongelooflik geliefd jy werklik was. Ek dink nie jy het ooit ten volle besef hoeveel jy vir ons almal beteken het nie.

“Rus sag, my boetie. Jou lied het nie geëindig nie – dit leef voort in elkeen van ons wat die voorreg gehad het om jou lief te hê. Tot ons weer ontmoet.”

Hulp

Enigiemand wat met geestesgesondheidsprobleme sukkel kan die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se 24-uur-hulplyn by 0800 456 789 bel. Sadag se WhatsApp-beradingslyn is ook tussen 09:00 en 16:00 by 076 882 2775 beskikbaar.

Jy kan ook die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid by 011 781 1852 of LifeLine South Africa by 0861 322 322 bel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.