Central SA
Baba van Noordwes se moeilike stryd teen RSV─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:51 Sat, 01 Aug 2026
Waar ander babas hul eerste maande tuis deurbring moes dié baba in die intensiewesorgeenheid aan ’n ventilator gekoppel word.
Die gesin sukkel ook weens die toenemende mediese uitgawes sodat hy die nodige behandeling kan kry. Die respiratoriesesinsitiale virus (RSV) is op 2 Junie by die vier maande oue Werner-Xian Wentzel van Rustenburg gediagnoseer.
Sy pa, Werner Jauhne Wentzel, sê hul seun moes reeds sedert sy geboorte verskeie mediese uitdagings trotseer. Hy is op 34 weke prematuur gebore weens komplikasies tydens die swangerskap.
Kort ná sy geboorte het hy asemhalingsprobleme ontwikkel en is hy onmiddellik na die neonatale intensiewesorgeenheid (NICU) geneem.

Werner-Xian Wentzel het sy eerste maand in die hopsitaal deurgebring. Foto verskaf
Aanvanklik het Werner-Xian vir drie dae suurstof gekry, maar sy toestand het vinnig versleg. Hy is onder sedasie geplaas en moes vir ongeveer tien dae aan ’n ventilator gekoppel word voordat sy longe geleidelik begin herstel het.
“Toe ons hom uiteindelik ná 19 dae huis toe kon neem het ons gedink die ergste is verby. Ons het nooit gedink hy sou weer so gou in ’n hospitaal beland nie,” sê Wentzel.
Kort nadat hy ontslaan is, het sy ouers opgemerk sy asemhaling is steeds vinniger as normaal. “Ons kon sien sy asemhaling is nie reg nie. As ouers weet jy wanneer iets nie normaal is nie en dit het ons baie bekommerd gemaak.”
Ondersoek
Die pediater was op ses weke bekommerd oor sy aanhoudende vinnige hartklop en asemhaling. Hy is vir verdere ondersoeke opgeneem, maar geen onderliggende probleem kon in daardie stadium gevind word nie.
Net twee dae nadat hy sy roetine-inentings ontvang het, het hy simptome van verkoue begin ontwikkel. Sy toestand het egter binne enkele dae versleg.
“Hy het begin hoes, koors ontwikkel en was baie huilerig. Ons het hom na die ongevalle-eenheid geneem en daar is vasgestel sy hartklop is ongeveer 220 slae per minuut.
“Dit was een van die bangste oomblikke van ons lewe,” sê Wentzel. Werner-Xian is onmiddellik gestabiliseer en later na die NICU verskuif. Op 2 Junie is bevestig dat hy RSV opgedoen het. Die virus het sy longe ernstig aangetas en ook ’n invloed op sy hart gehad.”

Werner-Xian Wentzel in die hospitaal deurgebring. Foto verskaf
Hy was aanvanklik vir vier dae op suurstof, waarna hy weer vir ongeveer agt dae aan ’n ventilator gekoppel is. Weens sy aanhoudende onreëlmatige hartklop is ’n pediatriese kardioloog ingeroep om hom te ondersoek.
Hoewel skanderings geen duidelike hartafwyking getoon het nie, het sy pediater besluit verdere spesialisbehandeling is nodig. Hy is op 13 Junie na die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg verwys, waar hy deur ’n longspesialis en pediatriese kardioloog behandel is.
Spesialiste
“As ouer doen jy enigiets vir jou kind. Ons was net dankbaar dat daar spesialiste was wat hom verder kon help.”
’n Laserprosedure is op 17 Junie gedoen om ’n vergroeisel op sy stembande te verwyder sodat sy lugweg verbeter kon word. Hy is ook op hartmedikasie geplaas om sy hartfunksie en hartklop te ondersteun.
Werner-Xian is op 2 Julie ontslaan, maar elke dag bring steeds nuwe uitdagings. “Party dae is hy vrolik en rustig soos enige ander baba. Ander dae is hy baie huilerig, ongemaklik en kry hy weer koors. Ons leef letterlik dag vir dag en bly hoop hy word al hoe sterker.”
Die mediese onkoste plaas ’n geweldige emosionele en finansiële las op die Wentzel-gesin. Gereelde opvolgbesoeke by die pediatriese kardioloog, spesialiste, bloedtoetse, medikasie en ander uitgawes moet self betaal word, en hul mediese fonds dek slegs sowat 60% van die hospitaalonkoste.
Werner-Xian moet op 14 Augustus weer die pediatriese kardioloog besoek. Die mediese onkoste beloop op die oomblik sowat R250 000.
Fondsinsameling
Die gesin het met ’n fondsinsameling begin. “Om vir hulp te vra is nie maklik nie, want ons weet elke huis het sy eie uitdagings,” sê Wentzel.
“Maar as iemand dit in sy hart kan vind om ’n donasie te maak, al is dit hoe klein, sal dit vir ons ongelooflik baie beteken. Elke bydrae help om ons seuntjie die beste moontlike kans te gee om gesond te word.”
Werner-Xian is tien jaar ná sy boetie en sussie gebore. “Hy is ’n ongelooflike groot seën. Ons wil net alles in ons vermoë doen om hom die kans te gee om eendag ’n normale, gesonde lewe te kan lei.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Hetjy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

