Central SA
VF Plus-raadslid weer in hof oor beweerde bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:18 Sun, 02 Aug 2026
Die raadslid in die Vaaldriehoek sal later vandeesmaand weer in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde bedrog wat met haar akademiese kwalifikasies verband hou.
Gerda Senekal, raadslid van die Emfuleni-munisipaliteit, het Woensdag (29/7) die tweede keer vlugtig in die hof verskyn. Die saak is tot 27 Augustus uitgestel.
OFM Nuus het in Julie 2024 berig die bewerings is aanvanklik as ’n interne aangeleentheid binne die VF Plus hanteer voordat dit tot ’n strafregtelike ondersoek gelei het.
Kobus Hoffman, ’n voormalige VF Plus-verteenwoordiger in die Gautengse wetgewer, het destyds beweer Senekal het valslik voorgehou sy het grade in openbare administrasie en BSc politieke wetenskap verwerf. ’n Ondersoek het aan die lig gebring sy beskik nie oor dié kwalifikasies nie.
Die aangeleentheid is aanvanklik binne die party geopper voordat ’n strafregtelike klagte in 2023 by die polisie aanhangig gemaak is. Hoffman het aangevoer die beweerde wanvoorstelling het Senekal ’n onbillike voordeel tydens kandidaatkeuringsprosesse gegee.
Die VF Plus het bevestig ’n interne ondersoek is gedoen. Wouter Wessels, ’n VF Plus-LP, het aan OFM Nuus gesê Senekal het nie haar kwalifikasies op haar CV of aansoekvorm vir die raadslidpos wanvoorgestel nie. Sy het wel by ’n geleentheid in die openbaar die indruk geskep dat sy oor bepaalde kwalifikasies beskik.
Wessels sê tugstappe is gedoen en die interne aangeleentheid is afgehandel. Hoffman het egter volgehou die beweerde optrede is ’n strafregtelike oortreding en die saak moet verder ondersoek word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


