On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Werkers in Noord-Kaapse munisipaliteite wag steeds vir hul salarisse

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:52 Sun, 02 Aug 2026

Werkers in Noord-Kaapse munisipaliteite wag steeds vir hul salarisse  | News Article
Die kantoor van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown. Foto: Facebook

Die vyf munisipaliteite se onvermoë om die afgelope twee maande hul werknemers betyds te betaal plaas die provinsie se plaaslike regering onder die vergrootglas.

“Vir honderde munisipale werkers het die salariskrisis finansiële onsekerheid en vrae oor die volhoubaarheid van munisipale geldsake meegebring. Die jongste salariskrisis is die onvermydelike gevolg van jare lange finansiële wanbestuur,” sê Gizella Opperman, DA-LPW.

Die party dring aan op ’n gesamentlike ingryping deur alle belanghebbendes om die toenemende finansiële krisis by verskeie munisipaliteite te stuit en volhoubare oplossings te vind.

Die Kamiesberg-, Kai !Garib-, Renosterberg- en Thembelihle-munisipaliteit sukkel om hul werknemers se Julie-salarisse te betaal. Die Magareng-munisipaliteit kon sy Junie-salarisse slegs uitbetaal nadat die Frances Baard-distriksmunisipaliteit finansiële hulp verleen het.

Die munisipaliteit sukkel om sy werknemers te betaal. Foto: Wikipedia

“Ons het begrip vir die swaarkry wat dit veroorsaak vir toegewyde, etiese munisipale werknemers wat finansiële onsekerheid moet verduur,” sê sy.

Dié vyf munisipaliteite tel ook onder die elf in die Noord-Kaap waarvan billikedeeltoekennings weerhou is weens ernstige finansiële tekortkominge. Dié stap was glo noodsaaklik “om die staatskoffers te beskerm en verdere verswakking van munisipale geldsake te voorkom”.

Finansiële wanbestuur

“Die wanbetaling van salarisse is die jongste bewys van volgehoue finansiële wanbestuur op munisipale vlak. Dit het reeds gelei tot begrotings wat nie behoorlik befonds is nie, agterstallige betalings aan pensioenfondse en reuseskuld aan diensverskaffers soos Eskom en waterrade.”  

Die DA wag op volledige verslae oor al elf munisipaliteite en wil onder meer weet in watter mate hulle aan die nasionale tesourie se voorwaardes voldoen, watter betalingsreëlings met krediteure getref is en watter stappe gedoen word om ’n herhaling van die krisis te voorkom.

Kamiesberg, Kai !Garib en Renosterberg sal na verwagting hul oorblywende billikedeeltoekennings ontvang sodra bewys gelewer is dat betalings aan krediteure gemaak is of betalingsreëlings getref is.

“Die Noord-Kaapse wetgewer moet sy toesig oor munisipaliteite verskerp om te voorkom dat ingrypings soos die weerhouding van billikedeeltoekennings weer nodig word.”  

Navrae is aan Tebogo Monyo, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, gerig.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.