On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Jagersfontein-slikdamsaak gaan voort in hooggeregshof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:36 Tue, 04 Aug 2026

Jagersfontein-slikdamsaak gaan voort in hooggeregshof | News Article
Die beskuldigdes met ’n vorige hofverskyning. Foto: Charne van der Merwe

Die vyf mans en verskeie maatskappye wat teregstaan staan op aanklagte weens die Jagersfontein-slikdamramp, maak na verwagting Dinsdag (4/8) hul eerste verskyning in die hooggeregshof in Bloemfontein vir ’n voorverhoorkonferensie.

Die saak is vroeër vanjaar van die Jagersfontein-landdroshof na die hooggeregshof oorgeplaas. Die beskuldigdes is Marius de Villiers (62), Petrus Johannes Combrink (60), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Gert Abraham Coetzee (34) en Jan Homes Viljoen (45), asook Jagersfontein Development en verskeie verwante maatskappye.

Hulle staan tereg op 13 aanklagte, waaronder drie van moord, asook aanklagte wat verband hou met beweerde omgewingsbesoedeling, die versuim om aan damveiligheidsvereistes te voldoen en oortredings van die Nasionale Waterwet en die Wet op Beroepsgesondheid en -Veiligheid.

’n Motor in Jagersfontein is toe onder die slik ná die ramp in September 2022. Foto verskaf

Die staat beweer onder meer die dam is sonder die nodige goedkeurings uitgebrei, veiligheidsvereistes is nie nagekom nie en misleidende of onvolledige inligting is aan owerhede verskaf.

Die Jagersfontein-slikdam het op 11 September 2022 meegegee en sowat 5,1 miljoen m³ slik en water het deur die nedersettings Charlesville en Itumeleng gespoel. Die ramp het grootskaalse verwoesting veroorsaak, honderde inwoners dakloos gelaat en groot skade aan huise, infrastruktuur en landbougrond aangerig.

Die Jagersfontein-slikdamramp in September 2022. Foto verskaf

Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu het hul lewe verloor. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie.

Die beskuldigdes het die afgelope jaar verskeie kere in die landdroshof verskyn nadat hulle byna vier jaar ná die ramp gedagvaar is. Die saak is telkens uitgestel om die verdediging tyd te gee om die omvangryke dossier te bestudeer.

Adv. Barry Roux tree op namens De Villiers, Combrink en Jagersfontein Development, Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners, en adv. Allen Simpson verskyn vir Viljoen. Adv. Mannie Witz verteenwoordig SRK Consulting (Suid-Afrika).

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.