On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaap: Vermiste jong ma se liggaam ná weke in Vaalrivier gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:57 Tue, 04 Aug 2026

Noord-Kaap: Vermiste jong ma se liggaam ná weke in Vaalrivier gevind | News Article
Lizeny Molehe (22) het op 24 Junie weggeraak. Foto: Facebook

Die familie van ’n jong ma, wat byna twee maande lank vermis was, wag nou op antwoorde nadat haar liggaam in die Vaalrivier naby Delportshoop gevind is.

Lizeny Molehe (22) het op 24 Junie weggeraak nadat sy glo haar woning saam met vriende verlaat het. Haar liggaam is Vrydag (31/7) uit die rivier naby Sydney-on-Vaal gehaal, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die DA vra die polisie moet die ondersoek met dringendheid voortsit en die familie deurentyd op die hoogte hou. “Die doel is om vas te stel wat tot Molehe se dood gelei het en om diegene wat moontlik daarvoor verantwoordelik is, aan die pen te laat ry,” sê dr. Delmaine Christians, DA-LP en Diamant-Suid -kiesafdelingshoof.

“Die ontdekking van Molehe se liggaam het die vrese van haar familie, vriende en die Longlands-gemeenskap bevestig. Ons gedagtes is veral by Lizeny se sewe maande oue baba, haar ma, Lesego Gerts, en almal wat haar liefgehad het.”

Lizeny Molehe se liggaam is ná byna twee maande gevind. Foto verskaf

Christians sê sy is Vrydag deur ’n familielid ingelig verbygangers het iets onder ’n brug in die rivier opgemerk wat soos ’n liggaam gelyk het. Sy het daarna kontak gemaak met lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, waarna die provinsiale duikeenheid na die toneel gestuur is.

Polisielede van Delportshoop en die provinsiale duikeenheid het hulle na die toneel gehaas. “Haar liggaam is omstreeks 20:30 uit die rivier gehaal, waarna Molehe se naasbestaandes haar formeel uitgeken het,” sê Ehlers.

Molehe is op die dag van haar verdwyning omstreeks 23:00 laas by haar woning gesien. Sy het glo saam met vriende vertrek en gesê sy gaan ’n selfoon by ’n ander vriend haal, maar sy het nooit teruggekeer nie. Haar familie het haar op 7 Julie as vermis aangemeld. “Hoewel die ontdekking van Lizeny se liggaam ’n einde aan die soektog bring, is dit die begin van haar familie se soektog na die waarheid en geregtigheid. Alle beskikbare hulpbronne moet nou aangewend word om die omstandighede rondom Molehe se dood vas te stel.”

Die uitslag van die nadoodse ondersoek moet ook met die familie gedeel word sodra dit wettig moontlik is.

Intussen is ’n verdagte deur die polisie in hegtenis geneem in verband met die beweerde diefstal van Molehe se selfoon. Die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

“Die selfoondiefstalsaak moet nie die ondersoek na Molehe se dood vervang nie,” sê Christians. “Daardie regsaak moet sy gang gaan. Die ondersoek na Lizeny se dood moet egter voortgaan totdat al die feite bekend is en die verantwoordelikes aanspreeklik gehou word.”

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.