Central SA
Jagersfontein-ramp: Saak uitgestel tot November─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:33 Tue, 04 Aug 2026
Die strafsaak teen vyf mans en verskeie maatskappye wat teregstaan in verband met die Jagersfontein-slikdamramp, is tot 25 November uitgestel vir ’n voorverhoorkonferensie.
Die beskuldigdes het Dinsdag (4/8) in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn nadat die saak vroeër vanjaar van die Jagersfontein-landdroshof oorgeplaas is. Gert Abraham Coetzee (34), Jan Homes Viljoen en Jagersfontein Development het vertoë aan die staat gerig wat nog nie afgehandel is nie.
Deskundigeverslae waarop Marius de Villiers (62), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Petrus Johannes Combrink (60) en verwante maatskappye steun, is ook nog nie gereed nie. Hulle staan tereg op aanklagte van ernstige omgewingsbesoedeling, die oortreding van watergebruiklisensievoorwaardes, die verskaffing van vals of onvolledige inligting en die belemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie. Die aanklagstaat sluit ook verskeie damveiligheidsoortredings en 121 aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging in.
Die beskuldigdes het in 2011 begin om ou mynafval in Kopanong-munisipaliteit te herverwerk en die afvaldam oor etlike jare uitgebrei. Teen 2015 het die dam se kapasiteit 50 000 m³ oorskry, wat dit volgens die staat ’n hoërisiko-kategorie III-dam gemaak het wat geregistreer moes gewees het.

Die Jagersfontein-hof was met ’n vorige verskyning vol gemeenskaplede. Foto: Charne van der Merwe
Die staat beweer die dam is nie geregistreer nie en dat misleidende of onvolledige stabiliteitsdata ingedien is. Belangrike inligting is glo weerhou, die dam is sonder die nodige goedkeuring uitgebrei en die toegelate afvalbeperkings is na bewering drievoudig oorskry.
Die dam se suidelike oewer het op 11 September 2022 meegegee, waarna sowat 5,1 miljoen m³ slik en water vrygestel is en deur Jagersfontein gestroom het. Die beskuldigdes het sedertdien verskeie kere in die landdroshof verskyn, en die saak is voorheen uitgestel sodat die verdediging die dossier kon bestudeer.
Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu het in die ramp gesterf. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie. Papiki Tsoali, ’n inwoner en slagoffer wie se huis vernietig is, het vroeër aan OFM Nuus gesê hy hoop geregtigheid sal geskied.
Adv. Barry Roux tree namens De Villiers, Combrink en Jagersfontein Development op. Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners, terwyl adv. Allen Simpson vir Viljoen verskyn. John Stiff tree namens SRK Consulting op.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

