On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein se DBV gee duisende diere ’n tweede kans

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:22 Wed, 05 Aug 2026

Bloemfontein se DBV gee duisende diere ’n tweede kans | News Article
Bloemfontein DBV het vir duisende honde ’n nuwe tuiste gekry. Foto verskaf

Meer as 3 000 diere het die afgelope jaar baat gevind by die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) se verskeie welsynsdienste. Honderde is met hul eienaars herenig of het ’n nuwe tuiste gekry.

Die afgelope jaar het die DBV hom nie net toegespits op die onmiddellike versorging van diere in nood nie, maar ook op die verantwoordelike herplasing, voorkomende sterilisasie en optrede teen dierewreedheid. 

Die vereniging het terselfdertyd ook daarna gekyk om sy dienste, kommunikasie met die publiek en langtermyn volhoubaarheid te versterk, sê Zaandré Campher, voorsitter.

Elke dier met ’n huis is iets om te vier

Van die 676 diere wat met hul eienaar herenig of in ’n nuwe huis geplaas is, is 298 verantwoordelik herplaas, terwyl 378 verdwaalde diere met hul eienaar herenig is. Om verantwoordelike herplasing te verseker, word nuwe tuistes vooraf besoek voordat die diere daar geplaas word. 

“Elke dier wat met sy eienaar herenig word en elke dier wat in ’n verantwoordelike huis geplaas word, is iets om te vier,” meen Campher.

‘DBV vier sukses, luister na gemeenskap’

Dié syfers maak deel uit van die DBV se verslag oor die tydperk van 1 April verlede jaar tot einde Maart, waarin terugvoer gegee word oor die omvang van sy werk, grootste suksesse en areas wat verdere aandag verg. 

“Dit was ’n geleentheid om sukses te vier, maar ook om na die gemeenskap te luister,” sê hy.

Die DBV het altesame 2 363 diere behandel, waarvan 844 katte en 1 519 honde was. Altesame 1 050 diere is gesteriliseer, ’n belangrike voorkomende maatreël om ongewenste werpsels te beperk en die druk op dierewelsynsorganisasies en gemeenskappe te verlig.

Sterilisasie verlig druk op dierewelsyn

“Sterilisasie is een van die belangrikste langtermyn-ingrypings tot ons beskikking. Dit help om ongewenste werpsels te voorkom en verminder die druk wat op dierewelsynsorganisasies en gemeenskappe geplaas word,” sê Campher.

Die DBV se inspektoraat het gedurende die verslagtydperk 69 ondersoeke rakende dierewreedheid uitgevoer, 112 waarskuwings uitgereik, ses lasbriewe bekom en 169 diere verwyder. 

‘Inspekteurs kan slegs binne bevoegdhede optree’ 

Campher beklemtoon om ’n klag van dierewreedheid te lê, nie outomaties beteken ’n dier word verwyder nie. Inspekteurs moet eers die klagte ondersoek, die feite vasstel en kan slegs binne hul wettige bevoegdhede optree. 

“Die inspekteur moet die dier beoordeel, die relevante feite vasstel en binne die bevoegdhede wat deur die wet verleen word, optree.” 


Die DBV ontvang ongeveer 4 000 telefoonoproepe per maand, benewens e-posse, WhatsApp-boodskappe en ander navrae. Die bestuurskomitee erken die huidige kommunikasie- en opsporingstelsel verbeter moet word en werk daarom aan ’n kaartjiestelsel vir klagtes en navraes. 

Nuwe stelsel vir opvolg van klagtes

Die stelsel sal verwysingsnommers gebruik om dit makliker te maak om sake op te spoor, duplikaatverslae te identifiseer en te verseker klagtes en navrae word opgevolg. 

“’n Lid van die publiek wat die moeite gedoen het om sy kommer oor dierewelsyn aan te meld, wil redelikerwys weet die saak is ontvang en toepaslik hanteer.” Volledige terugvoer is egter nie altyd moontlik nie weens privaatheidredes, vertroulikheidklousules en voortgesette regsprosesse.

‘Surplus beteken nie DBV is finansieel onafhanklik’

Die DBV se finansies het van ’n tekort na ’n surplus verbeterr, maar waarsku dat die verbetering nie beteken die organisasie is finansieel onafhanklik nie. ’n Deel van die inkomste kom van eenmalige fondse en erflatings. 


Volhoubare maandelikse skenkings en sakevennootskappe bly daarom noodsaaklik om die DBV se langtermynwerk te ondersteun. ’n Nuwe Tap-to-Donate-projek by deelnemende ondernemings maak dit vir lede van die publiek maklik en vinnig om met ’n bankkaart of selfoon ’n bydrae te lewer. 

Skenk maklik met 'Tap-to-Donate'

Die DBV nooi plaaslike ondernemings uit om deel van die projek te word deur ’n Tap-to-Donate-punt by hul perseel te huisves.

Die DBV se prioriteite vir die komende jaar behels meer verantwoordelike aannemings, makliker hereniging van rondloperdiere met hul eienaars, verbeterde kommunikasie met die publiek, vinniger oplossings van sake, ontwikkeling van personeel, ’n doeltreffende inspektoraat en die uitbreiding van gemeenskap- en sakevennootskappe.

Campher sê die vereniging wil voortbou op die werk wat reeds gedoen is, terwyl daar ook aandag gegee word aan die bekommernisse van die gemeenskap. 

“Ons moet elke dier wat gehelp is en elke positiewe uitkoms wat bereik is, vier. Ons moet ook luister wanneer lede van die publiek geldige bekommernisse opper en die stelsels verbeter waardeur ons ons gemeenskap dien.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.