Central SA
Krugersdorper ernstig beseer ná hy glo by trappe afgestamp is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:48 Wed, 05 Aug 2026
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n Krugersdorper by ’n restaurant van ’n stel trappe afgestamp het, sal in September weer in die hof verskyn.
Jacques Roberts (29), ’n elektrisiën, het Saterdag (1/8) ernstige brein- en gesigbeserings opgedoen. Sy familie hoop die swelling en bloeding op sy brein sal afneem en dat hy sonder ’n operasie sal herstel.
Roberts het bloeding op die brein, skedelbreuk, ’n gebreekte kakebeen en verskeie frakture rondom sy oë en sinusse opgedoen.
“Hy is aanvanklik in die intensiewesorgeenheid opgeneem, waar hy op hoëvloei-suurstof geplaas is om die lug binne sy skedel te help verminder. Omdat die frakture moontlik ’n opening tussen sy sinusse en die area rondom sy brein veroorsaak het, ontvang hy antibiotika om ernstige infeksies, insluitend breinvliesontsteking, te help voorkom,” sê Lerine Roberts, sy suster.
Die jongste CT-skanderings toon egter ’n groot verbetering, waarvoor die familie baie dankbaar is. Sy nek is nie gebreek nie, maar hy het sweepslag opgedoen en dokters moet steeds sy neus, kakebeen en moontlik sy tande verder ondersoek. Hy ervaar steeds baie pyn en ontvang sterk pynmedikasie.
“Die dokters hou die swelling en bloeding op sy brein dop. Ons bid dat dit sal afneem sonder dat ’n operasie nodig is,” sê Lerine.
Die voorval het by 6 on Heritage Square plaasgevind nadat Jacques glo, terwyl hy gedans het, ’n vrou gestamp het. Dit het na bewering tot ’n woordewisseling tussen hom en die vrou se kêrel, Tristan da Costa, gelei. “Jacques is aan sy hemp gegryp en by die trap afgestamp. Hy het met sy gesig eerste op die sementtrappe geval voordat hy verder afgerol het.

Lerine en haar broer, Jacques. Foto verskaf
“Hy het op sy rug gelê toe ek by hom kom. Ek het hom op sy sy gedraai omdat ek geweet het hy kon sy nek beseer het. Ek het sy kop op my been laat rus en dit na die kant gedraai sodat hy nie aan sy bloed verstik nie,” sê Lerine.
Jacques was sowat 20 minute bewusteloos terwyl Lerine sy polsslag dopgehou het totdat paramedici opgedaag het.
Die bestuur van 6 on Heritage Square sê in ’n verklaring hulle is diep geskok oor die voorval. Volgens die restaurant het personeel Roberts onmiddellik bygestaan, nooddienste ontbied en by hom gebly totdat paramedici opgedaag het. Die bestuur voeg by die restaurant handhaaf ’n beleid van geen verdraagsaamheid teenoor geweld of aggressiewe gedrag.

Jacques Roberts. Foto verskaf
Da Costa het Maandag (3/8) in die plaaslike hof verskyn, waar borgtog van R2 000 aan hom toegestaan is. Hy moet weer op 9 September in die hof verskyn.
Benewens Jacques se herstel, staar enorme mediese uitgawes die familie in die gesig. Jacques het nie ’n mediese fonds nie en die familie het reeds R230 000 betaal. Dié bedrag het slegs sy eerste drie dae in die intensiewesorgeenheid en ’n nood-CT-skandering gedek.

Dit sluit nie die koste van dokters, spesialiste, verdere behandeling, medikasie, moontlike operasies of rehabilitasie in nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
