Central SA
Bloemfonteiner wat mense én tuine laat blom het, het sy laaste saad gesaai─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:36 Thu, 06 Aug 2026
’n Reus in die tuinboubedryf wie se liefde vir plante duisende tuine én mense se lewe laat blom het, het sy laaste saad gesaai.
Jan van Blerk (70), die hart en siel van Greenside-kwekery in Bloemfontein, is Maandag (3/8), vier dae ná sy verjaardag, oorlede. Hy was 30 jaar lank die dryfkrag agter een van Suid-Afrika se bekendste tuinsentrums.
Van Blerk se liefde vir die natuur het reeds as jong seun begin toe hy tussen vrugtebome en ’n groentetuin grootgeword het. Hy het hortologie aan die destydse Pretoria Technikon studeer voordat hy die eienaar van Waterval-kwekery op Senekal geword het. Daar het hy ook een van Suid-Afrika se eerste Bybeltuine by die NG kerk Senekal gevestig.
Van Blerk se passie vir plante was nooit net sy eie nie. Hy het dit graag gedeel met elkeen wat wou leer, veral die kinders in die familie wat vakansies by die kwekery met groot deernis onthou.

Van Blerk het nie net plante laat groei nie; hy het mense aangeraak, verhoudinge gebou en blywende herinneringe geskep. Foto verskaf
Elke kind het ’n besondere verhaal van oomblikke saam met oom Jan tussen die plante, waar hy hulle geleer en aangemoedig het om met plante te werk, sê sy susterskind Lezanne Strauss, wat saam met hom gewerk het.
Sy kennis was nie net vir sy familie bedoel nie. Van Blerk het dit met groot geduld en geesdrif gedeel met elkeen wat bereid was om te leer. Hy het mense aangemoedig om selfvertroue in hul werk met plante te ontwikkel.
In 1996 het hy en familielede ’n klein bestaande kwekery in Bloemfontein oorgekoop en Greenside Kwekery op 1 Augustus daardie jaar amptelik begin. Wat as ’n droom begin het, het oor drie dekades tot een van die land se bekendste tuinsentrums gegroei.

Van Blerk saam met personeel van die Greenside Kwekery. Foto verskaf
Greenside is in 2020 en weer in 2022 as Tuinsentrum van die Jaar aangewys. “Jan was Greenside. Hy was waarlik die hartklop en baie bekend in Bloemfontein sowel as nasionaal in die tuinboubedryf,” sê Strauss.
Vir Van Blerk was Greenside veel meer as ’n besigheid. Dit was sy droom. Hy het die onderneming met integriteit, passie, harde werk, uitgebreide plantkennis en ’n opregte liefde vir mense opgebou sedert die eerste dag.
“Hy het nie net plante laat groei nie; hy het mense aangeraak, verhoudinge gebou en blywende herinneringe geskep. Deur die jare het hy duisende tuine mooier gemaak en die lewens van ontelbare mense verryk in Bloemfontein en verder.”

Jan en sy suster, Jeanne Hattingh. Foto verskaf
Sy familie beskryf hom as ’n ware gentleman en ’n gentle giant van die tuinboubedryf: Nederig, wys, sterk en altyd bereid om ander eerste te stel. Sy familie, die kwekery, sy personeel en die mense rondom hom het altyd voorrang geniet.
“Hy het sonder verwagting gegee, gehelp en opgebou. Daarom was hy nie net die hartklop van Greenside nie, maar ook die hartklop van ons familie,” sê Strauss. Sy lewe het volgens haar uit duisende klein oomblikke bestaan waarin hy iemand gehelp, aangemoedig of laat lag het.
“Hy het elke liewe mens laat voel hulle is belangrik. Miskien is dit juis sy grootste nalatenskap – nie een groot storie nie, maar duisende klein stories wat in mense se harte voortleef lank ná sy afsterwe.”

Van Blerk en sy broer, Christo. Foto verskaf
Sy afsterwe het as ’n groot skok vir sy familie en die Greenside-span gekom. Hulle mis reeds sy teenwoordigheid, wysheid, humorsin en omgee. Hoewel hy ’n man van min woorde was, het hy ’n groot invloed gehad.
Van Blerk se nalatenskap sal by Greenside voortleef. Hy het versoek dat die Jan van Blerk Familietrust ná sy afsterwe gestig word. Die familie wil sy nagedagtenis eer deur met dieselfde passie, toewyding en warmte voort te werk.
“So sal sy gees altyd deel van Greenside bly en sy nalatenskap voortleef in elke mens wat hier instap en elke plant wat hier groei.” Die familie vra dat mense eerder aan die Dierebeskermingsvereniging of die Kankervereniging skenk as om blomme te stuur.
Van Blerk het ’n besondere liefde vir diere, plante en die natuur gehad en diep deernis met diere in nood getoon. Die Kankervereniging was ook vir hom en sy familie betekenisvol deur sy hele lewe.
Strauss hoop mense onthou hom as iemand wat die wêreld mooier agtergelaat het as wat hy dit gevind het. Sy nalatenskap leef voort in sy familie, by Greenside en in die harte van die duisende mense wie se lewens hy aangeraak het.
Sy ma, Shiela van Blerk, se gesegde was altyd: “There is only one side … and that is Greenside!” Van Blerk se begrafnis vind Dinsdag (11/8) om 11:00 vanuit Woodland Hills Gemeenskapskerk in Bloemfontein plaas.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

