On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Besering keer dat bejaarde verkragter vir dade gestraf word

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:56 Thu, 06 Aug 2026

Besering keer dat bejaarde verkragter vir dade gestraf word | News Article
Barend Hendrik van der Berg. Foto verskaf

’n Bejaarde Vrystater wat skuldig bevind is aan die verkragting van ’n minderjarige, se vonnisoplegging is vertraag nadat hy weens ’n besering nie die verrigtinge kon bywoon nie.

Barend Hendrik van der Berg (84) van Petrusburg kon nie Donderdag (6/8) gevonnis word nie nadat hy glo in die stort geval en sy heup beseer het. Hy sal na verwagting later vandag hospitaal toegeneem word, sê Francois Retief, sy regsverteenwoordiger.

Streeklanddros Ingrid Matroos het die verrigtinge tot 19 Augustus uitgestel. Van der Berg is op 20 Julie skuldig bevind aan verkragting, seksuele uitbuiting van ’n kind en die dwang van kinders om ’n seksuele misdryf te aanskou. Hy het onskuldig gepleit, maar die hof het sy weergawe verwerp en hom op al die aanklagte skuldig bevind.

Die verkragting van ’n agtjarige meisie het volgens die staat oor meer as ’n jaar afgespeel, met die jong kind wat glo gereeld ná skool by Van der Berg se huis gekuier het.

'Hy het glo twee ander kinders, toe sewe en nege jaar oud, gedwing 
om die verkragting aan te skou'

Die saak het in Julie 2024 begin ontvou toe ’n ouer tydens ’n vergadering by ’n plaaslike laerskool ’n onderwyser oor die kind se opmerkings ingelig het. Sy het glo aan ander leerlinge vertel dat sy dikwels by Van der Berg se woning is en daar saam met ander kinders speel. Die onderwyser het die inligting aan die polisie oorgedra.

Tydens haar gesprek met die polisie het die meisie gesê dat sy feitlik elke middag ná skool na die man se huis gegaan het. Daar sou Van der Berg vir die kinders kos voorberei het voordat hulle tyd in en om die huis deur gebring het.

Die staat beweer dat hy onder meer brood, koekies en koeldrank aan die kinders gegee het en hulle toegelaat het om sy swembad te gebruik. Die verkragting het daarna plaasgevind. 

Hy het glo twee ander kinders, toe sewe en nege jaar oud, gedwing om die verkragting te aanskou. Die hof het bevind die kinders se getuienis was geloofwaardig en sy weergawe dat die aantygings teen hom vals was, verwerp.

Hy beweer die kinders is deur ander mense beïnvloed of voorgesê om die bewerings teen hom te maak. 

“Ons het intussen ’n korrektiewetoesigverslag aangevra, aangesien hy weens sy ouderdom waarskynlik nie ’n gevangenisstraf sal kan uitdien nie,” sê Retief. “Hoewel die staat vir lewenslange gevangenisstraf sal vra, wil ons die verslag gebruik in ’n aansoek dat Van der Berg onder korrektiewe toesig geplaas word.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel ofwhatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.