On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley-ma soek antwoorde oor babadogtertjie se mediese stryd

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:16 Fri, 07 Aug 2026

Kimberley-ma soek antwoorde oor babadogtertjie se mediese stryd | News Article
Theoné Maree. Foto verskaf

Nege dae ná haar geboorte het ’n Noord-Kaapse ma haar pasgebore dogtertjie skielik pap in haar arms sien word en bloed sien opbring.

Donovan en Elizabeth Maree het inderhaas na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley gejaag waar dokters ontdek het Theoné se bilirubienvlak was gevaarlik hoog. Dit het die begin geword van ’n lang en onsekere mediese stryd met talle ondersoeke, aanvalle en twee opnames in pediatriese intensiewe sorg.

Vandag leef die gesin steeds met die onsekerheid saam oor wat die toekoms vir hul dogtertjie inhou. “Vir my as haar mamma om selfs deur alles te gaan, is dit bitter swaar om te sluk. Daar is trane en baie vrae, maar ek moet nou op God vertrou,” sê Elizabeth.

Die ses maande oue Theoné was gedurende die eerste agt dae van haar lewe die soetste baba. Twee dae ná haar geboorte is hulle uit die hospitaal ontslaan, hoewel Elizabeth reeds bekommerd was oor haar dogtertjie se geel kleur.


“Ek het dit by die dokter genoem en later weer by die kliniek en hospitaal, maar elke keer is vir my gesê om haar net in die son te sit,” vertel sy.

Op 29 Januarie, nege dae ná haar geboorte, het alles egter verander. Theoné het daardie oggend nog normaal gevoed, maar het kort daarna pap in haar ma se arms geword en bloed opgegooi.

Sy is inderhaas hospitaal toe geneem, waar dokters vasgestel het haar bilirubienvlak was gevaarlik hoog – bo die sogenaamde ruilbloedoortappingsvlak – waarna sy onmiddellik opgeneem en behandel is.

Status epilepticus is by Theoné gediagnoseer. Foto verskaf

Bilirubien is ’n geel stof wat ontstaan wanneer rooibloedselle afgebreek word. By pasgebore babas kan dit ophoop omdat hul lewer dit nog nie doeltreffend genoeg verwerk nie, wat tot geelsug lei. Wanneer bilirubienvlakke egter gevaarlik hoog word, kan dit die brein beskadig en is dringende mediese behandeling nodig.

Sedertdien het sy reeds fototerapie ontvang en verskeie mediese ondersoeke ondergaan, waaronder ’n CT-skandering, MRI en EEG. Sy is ook al twee keer in die pediatriese intensiewesorgeenheid opgeneem, terwyl verdere ondersoeke, onder meer gehoor- en oogtoetse, nog wag.

Hoewel haar MRI normaal teruggekom het, is status epilepticus by Theoné gediagnoseer. Dokters vermoed ook dat sy gemengde serebrale gestremdheid het as gevolg van breinweefselskade.

Theoné is ’n sprankelende kind buite die hospitaal en al die drade. Foto verskaf

Vir Elizabeth is die grootste behoefte nou om duidelike antwoorde oor haar dogtertjie se toestand te kry. “Ek hoop om ’n beter verduideliking te kry as net ’n vermoede van dokters. Ek soek 100% sekerheid oor haar mediese toestand.”

Theoné is weer in die hospitaal, waar sy koors en aanvalle ervaar en deur middel van ’n EEG gemonitor word. “Sy is ’n sprankelende kind buite die hospitaal en al die drade. Sy het haar goeie dae en haar slegte dae, maar ons as gesin het saamgestaan om haar met baie liefde te ondersteun,” sê Elizabeth.

Die gesin se stryd strek egter veel verder as die hospitaal. Benewens Theoné sorg Elizabeth en Donovan ook vir hul twee tienerseuns, wat swaar deur die situasie geraak word. “Dit het ons as gesin tot stilstand geruk. Veral my seuns se fokus op skool het daaronder gely.”

Elizabeth en Theoné. Foto verskaf

Finansieel plaas die situasie ook geweldige druk op die gesin. Gereelde reise na Bloemfontein vir spesialisafsprake, asook vervoer, verblyf, mediese koste, huur, kos en die gesin se daaglikse uitgawes, begin ophoop. Elizabeth kan tans ook nie werk nie en verdien dus geen inkomste nie.

Ten spyte van alles bly Elizabeth se geloof haar anker. “Hoe meer ek ons storie gedeel het, hoe meer het ek besef ek is nie alleen nie. Dit het alles elke dag net ’n bietjie beter gemaak. By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.”

Weens die toenemende mediese en finansiële uitdagings het die gesin ’n geldinsamelingsveldtog begin om die koste van Theoné se spesialisafsprake, verdere ondersoeke, behandeling, reis en verblyf te help dek.

Hulle vra mense moet hul storie deel en vir hul dogtertjie bid, sodat sy die beste moontlike kans op ’n gesonde toekoms kan kry.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.