On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes: Dokters tevrede met Miné se herstel ná ingewikkelde rugoperasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:14 Fri, 07 Aug 2026

Noordwes: Dokters tevrede met Miné se herstel ná ingewikkelde rugoperasie | News Article
Miné du Plessis. Foto verskaf

’n Meisie van Wolmaransstad het nuwe hoop nadat dokters in ’n operasie van meer as vyf uur daarin geslaag het om die druk op haar rugmurg te verlig.

Miné du Plessis wat met die seldsame Dubowitz-sindroom gebore is, het Woensdag (5/8) op haar 18de verjaardag die ingewikkelde operasie in die Faerie Glen-hospitaal in Pretoria ondergaan. ’n MRI-skandering het vroeër bevestig haar rugmurg by die L5-werwel is onder ernstige druk en die toestand moet dringend behandel word.

“Ons is ongelooflik dankbaar. Die dokters is baie tevrede met haar vordering en in hierdie stadium is daar geen komplikasies nie. Hulle sê ook die senuwees is nie meer onder druk nie,” sê haar ma, Drinél Pienaar.

Sy het ook aan spondiloptose, die ernstigste vorm van spondilolistese, gely nadat haar L5-werwel heeltemal uit posisie gegly en ernstige druk op haar rugmurg geplaas het. Sonder die operasie het sy die risiko geloop om permanent verlam te raak.

Die operasie was langer as beplan omdat die chirurg meer vergroeisels rondom die werwel gevind het as wat aanvanklik verwag is. “Die dokter sê die operasie was meer gekompliseerd, maar hy kon die herstel baie mooi doen en hy is baie tevrede met die resultaat. Haar internis was ook baie gelukkig met haar bloeddruk, suurstofvlakke en asemhaling deur die hele prosedure.”

Toe Miné ná die operasie wakker word, het sy koud gekry en erge pyn ervaar. Nadat die personeel haar warm gemaak het, het sy weer aan die slaap geraak. Teen Donderdagoggend (6/8) was daar reeds bemoedigende tekens van herstel. Miné het reeds jellie begin eet en sal na verwagting later na ’n gewone saal verskuif word.

“Die dokters sê sy het baie vinniger begin eet as wat normaalweg met sulke pasiënte gebeur. Gewoonlik gebeur dit eers op die derde dag, so dit is baie belowend,” vertel Pienaar.Miné sal na waarskynlik nog vier tot vyf dae in die hospitaal bly, afhangend van hoe haar fisioterapie vorder. Sy moes die eerste ses uur ná die operasie plat op haar rug lê, waarna verpleegpersoneel haar elke twee uur versigtig gedraai het.

Sy sal met behulp van ’n rugstut haar eerste treë probeer gee. Dit is hoofsaaklik om seker te maak haar senuwees funksioneer normaal, hoewel sy vir eers min sal mag beweeg.

Hoewel die operasie suksesvol was, is dit nog te vroeg om te weet of haar beweeglikheid ten volle sal herstel. Vir die volgende drie maande sal sy feitlik net mag lê en slegs opstaan om te bad of die badkamer te gebruik.

Daarna wag opvolgafsprake en ses maande later sal sy ’n biokinetikus en arbeidsterapeut besoek om te leer hoe om veilig met haar “nuwe” rug te beweeg en haar spiere weer sterker te maak.

Pienaar sê die pad vorentoe bly lank, met minstens nog twaalf maande se herstel wat voorlê. “Ons vra dat mense asseblief sal aanhou om vir Miné te bid. As iemand dit ook in hul hart het om nog die fondsinsameling te ondersteun, sal ons dit ongelooflik waardeer, want daar lê nog baie mediese onkoste voor.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.