Central SA
Noordwes-boer se familie wag op volledige nadoodse verslag─── ZENANDE MPAME 14:50 Fri, 07 Aug 2026
Die naasbestaandes van ’n Noordwes-boer wag op die volledige nadoodse verslag om die presiese oorsaak van sy dood vas te stel, nadat voorlopige bevindings aangedui het dat hy aan natuurlike oorsake gesterf het.
’n Gedenkdiens vir Ernst Steynberg is Vrydag (7/8) by Tanglewood op die Potchefstroom-Carletonville-pad gehou, waar sowat honderd rouklaers hulde aan hom gebring het.
Steynberg wat verlede maand gesterf het, se verdwyning het tot ’n uitgebreide soektog gelei waaraan die polisie, nooddienste, snuffelhonde, helikopters, termiese hommeltuie en lede van die boeregemeenskap deelgeneem het.
Hy is op Sondag 26 Julie in die Rysmierbult-omgewing as vermis aangemeld nadat hy van die plaas Rietvallei naby sy huis weggeraak het.
“Die nadoodse ondersoek het aangedui dat Ernst aan natuurlike oorsake gesterf het, maar die familie wag steeds op die volledige mediese verslag om presies vas te stel wat sy dood veroorsaak het,” sê ds. Tinus Roux, ’n familievriend.
“Die verslag sê nie of dit ’n hartaanval, beroerte of iets anders was nie. Dit meld bloot natuurlike oorsake en dit laat steeds ’n mate van onsekerheid by die familie.”
Alise Steynberg, sy vrou, het hom op die dag kort ná 16:15 laas in die kombuis gesien. Toe sy sowat 15 minute later terugkeer, was hy weg, terwyl sy persoonlike besittings op die kombuistafel agtergebly het.
Die Klerkskraal-polisie het daarna met ’n soektog begin. Steynberg se liggaam is Dinsdagoggend op ’n koppie minder as ’n kilometer van die plaashuis af gevind nadat ’n polisiehelikopter ontplooi is om met die soektog te help.Roux sê die gebied waar Steynberg gevind is, is reeds deeglik deursoek. “Daar was ook geen sigbare liggaamlike merke of beserings aan Steynberg se liggaam toe hy gevind is nie. Hy het op sy rug gelê met sy hande oor sy bors gekruis.
“Sy wit hemp was steeds skoon met geen klitse aan sy klere nie ondanks die moeilike terrein waar sy liggaam gevind is.”
Die bgrafnisbesonderhede is nog nie bekendgemaak nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.


