On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Haar foto hoort nie langs haar vermeende moordenaar s’n’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:15 Tue, 11 Aug 2026

‘Haar foto hoort nie langs haar vermeende moordenaar s’n’ | News Article
Die twee oorledenes. Foto verskaf

Twee gesinne probeer sin maak van ’n tragedie wat twee jong lewens geëis het.

Die een se dogter is na bewering vermoor; die ander worstel met die verlies van hul seun nadat hy sy eie lewe geneem het. Hy kon verantwoordelik gewees het vir haar dood.

Ethan Coetzee (19) en Cameron Waldeck-Cooks (17) het Maandag 3 Augustus gesterf. Hulle is dood aangetref in dieselfde kamer van ’n selfsorgvakansiehuis op Waterval buite Sabie in Mpumalanga.

Die polisie het ná Cameron se dood ’n moorddossier geopen, terwyl ’n geregtelike doodsondersoek ná Ethan se dood ingestel word, sê kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder.

Cameron se boer, Ethan, se Instagram-plasing. Foto: Skermgreep

“Ethan het vermoedelik sy eie lewe geneem en ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.”

Cameron se pa, Derrick Cooks, het intussen gesê ’n voorlopige verslag van ’n private patoloog ná haar lykskouing dui daarop dat sy weens verwurging en versmoring dood is.

Haar broer, ook Ethan, het Vrydag (7/8) in ’n plasing op Instagram gesê daar is nie enige sprake van ’n dwelm-oordosis, gif of ’n selfdoodpakt nie.

Hy sê Ethan was voorheen vir hom soos ’n broer en dat hy hom altyd met vriendelikheid en respek behandel het. “Dié herinneringe verander egter niks aan die trauma wat Cameron moes deurmaak en ook ons familie nie.”


“My suster was iemand wat sou wou hê haar stem moes gehoor word en ek kan nie aanvaar dat haar foto steeds saam met dié van haar vermeende moordenaar gebruik word nie.”

Op hul beurt probeer die Coetzee-familie verstaan hoe hul seun se naam met die dood van sy meisie verbind word. Sy gesin het in ’n verklaring gesê hulle kan nie glo dat hul seun haar of enigiemand anders sou seermaak nie.

“Ethan en Cameron was gelukkig toe hulle Sondagaand (2/8) gaan slaap het. Die twee het pas ’n vyfdag-staptog saam met ’n groep familievriende voltooi, en die gesin sê niemand in die vakansiehuis het enigiets gehoor wat op ’n bakleiery gedui het nie.”

Die Cooks-gesin. Foto Facebook

’n Voorlopige private lykskouingsverslag toon volgens sy gesin ook nie beserings aan Ethan wat met ’n worsteling ooreenstem nie.

“Ethan was saggeaard, gaaf en lojaal. Hy was lief vir Cameron, ons almal was. Ons kan nie glo dat ons seun enigiemand sou seermaak nie.”

Ethan het verlede jaar aan St Stithians Boys’ College gematrikuleer. Hy was ’n lid van die skool se eerste rugbyspan en het ook ’n groot liefde vir perderuitery gehad.

Cameron was ’n gr. 11-leerling aan St Stithians Girls’ College in Sandton. Sy het uitgeblink in netbal en was ook lid van haar skool se roeispan.

Graeme Coetzee, Ethan se pa, het Derrick gebel om hom van Cameron se dood in kennis te stel.

Coetzee besit ’n kommunikasiemaatskappy, terwyl sy vrou, dr. Jenny Pfeiffer-Coetzee, die stigter en eienaar van African Potential is. 

Die onderneming volg ’n holistiese benadering tot volhoubaarheid en werk saam met die Verenigde Nasies om gemeenskappe met beperkte hulpbronne te ondersteun.

Derrick besit ’n reklameagentskap en Cameron se ma, Claire Waldeck-Cooks, is ’n prokureur by die Waldeck-prokureursfirma in Bryanston, Johannesburg.

Geen begrafnisreëlings vir Cameron of Ethan is tot dusver bekend gemaak nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.