Central SA
Vrystater se verkragtingsaak uitgestel vir aanklaer se besluit─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:16 Tue, 11 Aug 2026
Die saak teen ’n Vrystater wat daarvan beskuldig word dat hy ’n vrou ná ’n ontmoeting in ’n kroeg verkrag het, is uitgestel.
Die 43-jarige moet weer op 9 September in die stad se landdroshofverskyn. Hy het Dinsdag (11/8) sy tweede verskyning op ’n aanklag van verkragting gemaak, waarna die saak uitgestel is sodat die streekhof-aanklaer oor die verdere hantering daarvan kan besluit.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger sê dié aanklaer moet eers met die klaagster konsulteer. “Die beslissing oor hoe die saak verder hanteer sal word, sal daarna deur die streekhof se beheer-aanklaer geneem word.” Die beskuldigde is vroeër op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Die klaagster (45) en die beskuldigde het mekaar glo in ’n kuierplek ontmoet, waar hulle tyd saam deurgebring en telefoonnommers uitgeruil het.
Weer ontmoet
Hulle het daarna kontak behou en volgens die klagstaat ooreengekom om mekaar op 30 Junie weer by dieselfde kroeg te ontmoet.
Die vrou beweer hulle het later die aand na die beskuldigde se woning gegaan, waar die beweerde verkragting plaasgevind het. Sy het die volgende dag ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, waarna die beskuldigde op 2 Julie in hegtenis geneem en op 6 Julie op borgtog vrygelaat is.
Intussen sou ’n man (29) van Bultfontein Dinsdag (11/8) in die dorp se landdroshof verskyn nadat hy glo ’n sewejarige meisie verkrag en vermoor het. Die slagoffer is Sondag onder ’n bed in die Phahameng-nedersetting gevind.

Provinsiale polisiewoordvoerder kapt. Loraine Earle sê die polisie is na ’n moordtoneel ontbied. Die meisie het beserings aan haar nek gehad. “Sy is deur nooddienspersoneel op die toneel dood verklaar.”
Die oorledene is deur haar suster (14) aangetref nadat sy ’n hand onder die bed sien uitsteek het. Sy het haar pa, wat in die hoofhuis was, onmiddellik gewaarsku. Die polisie is daarna ontbied en ’n ondersoek na die omstandighede om die meisie se dood is begin.
Earle sê die verdagte is tydens die ondersoek by ’n nabygeleë plaas opgespoor en in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van moord en verkragting.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.
