Central SA
Brand by Bloedrivier bring vrae oor verhouding tussen gemeenskappe─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:56 Wed, 12 Aug 2026
Die vermoedelike brandstigting by die Bloedrivier-erfenisterrein het aansienlike skade veroorsaak en die klem geplaas op verhoudinge tussen omliggende gemeenskappe en erfenisterreine.
Die brand het Maandag (10/8) omstreeks 03:30 uitgebreek en die woning van die terrein se bestuursegpaar en hul kinders bedreig. Olie is op talle plekke rondom die erf en by die kampeerterrein aangetref, wat die vermoede laat ontstaan het dat die brand doelbewus gestig kon wees, sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die kultuurtuiste.
‘Kan nie as veldbrand afgemaak word nie’
“Ons beskou hierdie voorval as uiters ernstig. Wanneer ’n brand só naby aan ’n woning ontstaan dat dit mense en kinders se lewens in gevaar stel, kan dit nie bloot as ’n gewone veldbrand afgemaak word nie.”
Langner was saam met sy seuns, Niël, kommunikasie-en-bemarkingsbeampte by die Kultuurtuiste, en Daniël, asook ’n vriend, op die terrein toe die brand ontstaan het.
Niël het wakker geword toe Anton Jansen van Vuuren, hoofbestuurder van die erfenisterrein, om hulp geroep het. Hy het saam met sy broer gehelp om die brand te blus en het tydens hul pogings ligte brandwonde opgedoen.
“Ek en my broer het begin om die vlamme dood te trap, waarna ons op ’n stuk afgekom het wat ons nie kon doodtrap nie. Ons het besef dit is ’n oliekol,” sê Niël.
Die vlamme is omstreeks 05:00 bedwing. Hoewel niemand ernstig beseer is nie, is ’n groot gedeelte van die kampeerterrein vernietig, terwyl kragpunte, ander elektriese infrastruktuur en boorgatpompe beskadig of vernietig is.
Dieresorg dringend benodig
Die donkies se blyplek is ook beskadig, terwyl die terrein se diere tans dringend verdere kos en versorging benodig.
Die skade word op sowat R100 000 geraam, terwyl ongeveer 400 m se grond ook deur die brand verwoes is.

Die skade word op sowat R100 000 geraam. Foto verskaf
Die voorval het intussen vrae laat ontstaan oor die simboliese betekenis van Bloedrivier en die verhouding tussen die verskillende gemeenskappe wat die gebied deel.
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder oor kultuur, sê die voorval moet binne die breër konteks van verhoudings tussen naburige gemeenskappe en die hantering van verskillende historiese perspektiewe beskou word.
‘Wedersydse erkenning tussen erfenisterreine’
“Dit is nog te vroeg om met stelligheid te beweer dat die simboliese aard van Bloedrivier die rede vir hierdie voorval is. Bloedrivier en die Ncome-terrein aan die oorkant van die rivier het oor die afgelope jare toenemend aanvullende perspektiewe op die geskiedenis gebied.”
Daar is juis gepoog om ’n verhouding van wedersydse erkenning en waardering tussen die twee erfenisterreine te bou.

’n Beloning van R20 000 word aangebied vir inligting. Foto verskaf
“Die brandvoorval beklemtoon waarom sulke verhoudings ook met die omliggende gemeenskappe bevorder moet word. Die voorval beklemtoon die noodsaak om verskille in identiteit en geskiedenisbeskouings nie te ignoreer nie, maar openlik te bespreek. Slegs dán ontwikkel mense waardering vir mekaar se beskouings,” sê Boshoff.
Langner sê die Bloedrivier-erfenisterrein beskou nie die voorval as ’n aanval op die Ncome-museum of die Ncome-gemeenskap nie. “Bloedrivier en Ncome is aangrensende erfenisterreine en handhaaf volgens die terrein se bestuur goeie verhoudinge en samewerking.”
R20 000 beloning aangebied
Kontak is reeds met die Ncome-museum en gemeenskapsleiers in die Ncome-omgewing gemaak om saam te werk aan pogings om die persoon of persone wat vir die brand verantwoordelik is, te identifiseer.
Die terreinbestuur bied ook ’n R20 000-beloning aan vir inligting wat tot die identifisering, inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verantwoordelike persoon of persone kan lei.

Die erfenisterrein vóór die brand. Foto verskaf
Boshoff sê dit is belangrik dat die voorval nie bestaande verhoudings tussen gemeenskappe verder vertroebel nie. “Verskille moet nie toegelaat word om gemeenskappe verder van mekaar te vervreem ná die voorval nie.
‘Voortdurende gesprek, samewerking belangrik’
“Die brand het juis die belangrikheid beklemtoon van voortdurende gesprek, erkenning en samewerking tussen gemeenskappe met verskillende historiese en kulturele perspektiewe.”
’n Strafregtelike klag is by die Kingsley-polisiekantoor ingedien en die ondersoek na die voorval duur voort.
Intussen vra die Bloedrivier-erfenisterrein ondersteuners, die gemeenskap en ondernemings om te help met die finansiering van die nodige veiligheids- en herstelmaatreëls ná die brand.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

