On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Een uit elke twee Noord-Kapenaars is sonder werk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:57 Wed, 12 Aug 2026

Een uit elke twee Noord-Kapenaars is sonder werk | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Swak dienslewering, munisipale probleme en struikelblokke vir klein ondernemings belemmer broodnodige belegging en nuwe werkskepping, meen die DA.

Die party sê die hoë werkloosheidskoers wys ’n omgewing moet dringend geskep word waarin plaaslike ondernemings kan groei en nuwe werk skep. Die Noord-Kaap se uitgebreide werkloosheidskoers het volgens die arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal tot 47,1% gestyg. 

Dit beteken bykans die helfte van die provinsie se potensiële arbeidsmag is óf werkloos óf ontmoedig om werk te soek.

Vergeleke met die vorige jaar het die provinsie se uitgebreide werkloosheidskoers egter verder versleg. In die vierde kwartaal van 2024 het die koers op 39,7% gestaan.

Fawzia Rhoda, DA-wetgewerlid. Foto: People’s Assembly

Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag (11/8) bekend gemaak die land se amptelike werkloosheidsyfer het gestyg van 32,7% in die eerste kwartaal tot 33,6% in die tweede kwartaal. 

Die getal werkloses het met 345 000 tot 8,5 miljoen toegeneem, terwyl die getal werkende persone met 16 000 tot 16,7 miljoen afgeneem het.

Jeugwerkloosheid het ook verder versleg. Die getal werklose jong mense tussen 15 en 34 jaar het met 264 000 tot 5 miljoen toegeneem, terwyl die getal werkende jong mense met 40 000 tot 5,6 miljoen afgeneem het. 

Die jeugwerkloosheidskoers het gevolglik met 1,5 persentasiepunte tot 47,4% gestyg.

“Entrepreneurs en moontlike beleggers word deur rompslomp rondom die stigting en finansiering van klein-, medium- en mikro-ondernemings afgeskrik. 

Die staat moet burokrasie verminder, dienslewering verbeter en klein ondernemings beter ondersteun,” sê Fawzia Rhoda, lid van die Noord-Kaapse wetgewer.


Munisipale onstabiliteit en swak basiese dienslewering maak die probleem verder ingewikkeld, soos die lang kragonderbrekings in die Kamiesberg-munisipaliteit en onbeplande wateronderbrekings in Sol Plaatje.

“Probleme met elektrisiteit, water, riool en instandhouding skep ’n omgewing waarin beleggers huiwerig is om geld in plaaslike gemeenskappe te belê. Veiligheidsprobleme en vandalisme by die Upington-nywerheidspark benadeel beleggers se vermoë om hul bates te beskerm en kliënte te lok.”


Op provinsiale vlak het Mpumalanga die meeste werksgeleenthede geskep, sowat 41 000, gevolg deur die Oos-Kaap se 13 000 en die Vrystaat se 9 000. 

Die Wes-Kaap het egter die grootste afname aangeteken: 48 000 minder werksgeleenthede, gevolg deur Gauteng se 22 000 en Noordwes se 15 000.

Die Wes-Kaap het steeds die laagste werkloosheidskoers in die land, terwyl die DA beweer byna 90% van die werksgeleenthede wat die afgelope vyf jaar in Suid-Afrika geskep is, het in dié DA-beheerde provinsie die lig gesien.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.