On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse kunswedstryd vier 100 jaar

───   SUSAN MARÉ 13:34 Wed, 12 Aug 2026

Bloemfonteinse kunswedstryd vier 100 jaar | News Article
Die koor van die Meisieskool Oranje was vanjaar weer eens ‘n kunswedstrydpresteerder en het ‘n A++ behaal. Foto verskaf

Die Vrystaatse Kunswedstrydvereniging (VKV) se eeufees-galakonsert Donderdag (13/8) in die Odeion is van groot betekenis.

Die vereniging, wat op 15 Julie 1926 op ’n vergadering in Bloemfontein gestig is, kyk met trots terug op ’n eeu van kuns, kultuur en Afrikaans. Bloemfonteiners kan nader staan vir ’n opwindende program van musiek, toneel en voordrag.

Pianis Charl du Plessis en sanger Corneil Müller is deel van die konsert. Helena Samuel sê toegang is gratis, maar dit is belangrik om ’n sitpleknommer deur ’n Quicket-bespreking te bekom.

Die vereniging het die afgelope eeu talle lewens aangeraak en verryk. Dit het van Bloemfontein ’n kultuur-en-musiekstad help maak wat deur die dekades gegroei het tot ’n groot nasionale taal-, kultuur- en musiekerfenis.

Dr. Johan Cromhout, wat navorsing gedoen het oor die geskiedenis van die wedstryd, en vier van sy leerlinge. Foto: Verskaf

Dr. Johan Cromhout van die Meisieskool St. Michaels in Bloemfontein skryf in ’n kort historiese oorsig vir die amptelike program van die gala-aand oor die “klein begin van ’n Vrystaatse droom”.

Die Volksblad het op 22 Mei 1933 berig: “Vir die vierde maal het die Vrystaatse Kunswedstrydvereniging sy wedstryde tot ’n triomfantelike einde deurgevoer.

“Wat hierdie wedstryde nie al beteken het vir die verryking, verbreding en verdieping van die kunslewe in die Vrystaat en selfs daarbuite, kan nooit in tasbare vorm gemeet word nie.”

Die pianis Charl du Plessis het sterk Bloemfonteinse wortels en is saam met Corneil Müller (sang) deel van die gala-aandprogram. Foto verskaf

Betrokke by die stigting was Ons Taal-vereniging onder voorsitterskap van dr. C.F. Visser, verteenwoordigers van die Grey-Universiteitskollege, die Oranje-Vrouevereniging, die Vrystaatse onderwysdepartement, die Afrikaanse Studentebond, die Nederlandse Verbond, die Oranje-Vrystaatse Onderwysvereniging en die Voortrekkers.

Die eerste kunswedstryd is in September 1928 gehou met vier afdelings: musiek, beeldende kuns, voordrag en woordkuns, en hande-arbeid. Die wedstryd van 1931 het sowat 2 000 kinders en volwassenes gelok.

Oudpres. F.W. Reitz het as beskermheer opgetree, terwyl genl. J.B.M. Hertzog, dr. D.F. Malan, C.T.M. Wilcocks en ’n ds. Van Heerden erelede was.

Eie kantoor

Teen 1935 het die vereniging selfs ’n eie kantoor in Oos-Burgerstraat gehad.  Sekere afdelings is op verskillende tye van die jaar aangebied. Handboekies is na Vrystaatse skoolhoofde gestuur. Die onderwysdepartement het betaalde verlof aan onderwysers toegestaan wat leerlinge na die wedstryd vergesel het.

Cromhout skryf die vereniging het van 1939 tot 1955 geweldig uitgebrei en gegroei. In 1941, op die negende kunswedstryd, het koorsang onder leiding van bekwame dirigente en groot name soos David Roode, Petrus Lemmer, Anna Jackson en Jennie Hadlow geblom en is dit as van die beste in die land beskryf.

Ander groot name wat met die vereniging vereenselwig word, is onder meer Japie Human, Elizabeth Joubert, Niel Immelman en Elza van der Linde. Hulle het later as beroepsmusici hul stempel op die Suid-Afrikaanse musiektoneel afgedruk.

Die skoolkoor van Oranje het reeds in die jare 50 naam gemaak in die wedstryd. Foto verskaf

Skoolkore van die Meisieskool Oranje, Hoërskool Sentraal, Eunice High School en Pres. Brand was in die jare 50 groot presteerders.

Bloemfontein se reputasie vir uitstaande koorsang wat tot vandag standhou is destyds stewig gevestig, skryf Cromhout. 

Die platteland het ook presteer. Wepener se gemengde- en dameskoor het in 1953 skoonskip in die volwassekoor-afdeling gemaak onder leiding van Sandra Roos.

Skoolkore van die Meisieskool Oranje, Hoërskool Sentraal, Eunice High School en Pres. Brand was in die jare 50 groot presteerders.


Onder leiding van wyle Kobie Colditz het die finansiële aspekte van die vereniging sterk aandag gekry.  Sy het meer borge help bekom. Met dié geld kon bekwame beoordelaars van buite Bloemfontein voortaan vir die meeste afdelings aangestel word.

Colditz was voorsitter sedert 2001 en haar leiding het daartoe bygedra van die vereniging in die nuwe millennium ingrypend gemoderniseer is. Inskrywings het merkbaar toegeneem. Nuwe afdelings soos ligte en populêre musiek en ’n orrelkategorie (sedert 2005) het groot byval gevind.

Intussen het die Odeion, die Musiconsaal en die kapel van St. Michael’s die ou stadsaal as tuiste vir onderskeidelik die instrumentale, koor- en klavierafdeling vervang.

‘Die VKV se lang geskiedenis is ’n bewys van volgehoue toewyding aan kuns, kultuur en die Afrikaanse taal’

Die kunswedstryd word sedert sy stigting tweejaarliks gehou. Saam met die St Michael’s Music, Art and Drama Festival, gestig in 2000 deur Cromhout, al om die tweede jaar kry jong Vrystaatse kunstenaars elke jaar ’n platform om hul talente te slyp en ten toon te stel.

Sedert 2022 het die vereniging se bestuur vars energie en nuwe lede bygekry, onder wie prof. Danre Strydon en Luzanne Eigelaar wat die vereniging in die digitale era ingelei het.

Die modernisering het reeds vrugte afgewerp. Vanjaar, die vereniging se eeufeesjaar, is ’n rekordgetal inskrywings ontvang – ’n gepaste manier om 100 jaar geskiedenis te vier. Die beoordelaarstruktuue van die kunswedstryd is ook uniek omdat daar in elkeen van die afdelings spesialiste as beoordelaars optree.

Danksy ander lojale vennote soos die Odeion-musiekskool, wat klassieke musiekafdelings aanbied, en Grey Kollege, die ligte-musiekkategorie, staan die kunswedstryd sterker as ooit.

 “Van ’n klein groepie entoesiaste rondom ’n vergaderingstafel in 1926, tot ’n vereniging wat vandag duisende jong Vrystaters se musikale, dramaties, letterkundige en beeldende talente koester…

“Die VKV se lang geskiedenis is ’n bewys van volgehoue toewyding aan kuns, kultuur en die Afrikaanse taal. Dit stimuleer onderwysers, gee jong kunstenaar ’n platform en bou al vir ’n eeu lank hieraan.

“Soos prof. W.F.C. Arndt reeds in 1936 geskryf het, gaan dit nie oor die trofee nie, maar oor die blywende beoefening en waardering van die kuns self,” sluit Cromhout af.

• Die galakonsert in die Odeion is gratis, maar sitpleknommers kan net deur Quicket.co.za bekom word.

OFM Nuus/Susan Maré cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.