On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Werker sit aanrandingsaak voort, Bloem-sakevrou weer in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Thu, 13 Aug 2026

Werker sit aanrandingsaak voort, Bloem-sakevrou weer in hof | News Article
Franzelle Venter en Dipao Moreng. Foto’s: Charne van der Merwe

Die Bloemfonteinse sakevrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar werknemer aangerand het, verskyn Donderdag (13/8) weer in die hof.

Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, staan tereg op ’n aanklag van aanranding. Die aanklag is vroeër in die plaaslike landdroshof teruggetrek nadat die klaagster, Dipao Moreng, aanvanklik nie meer met die saak wou voortgaan nie.

Daar was glo ook onderhandelinge tussen die partye oor ’n moontlike skikking buite die hof. Die hof het daarna gelas Venter moet ’n Nicro-evaluering ondergaan. Sy het op 14 Julie in die hof verskyn vir ’n formele Nicro-assessering.

Die staat het destyds die evaluering versoek weens die erns van die bewerings teen Venter, ondanks Moreng se aanvanklike besluit om nie met die vervolging voort te gaan nie. Ná oorlegpleging met die staat het Moreng egter besluit om die saak voort te sit. 


Venter se regspan sal na verwagting om ’n uitstel vra, aangesien sy agt maande swanger is.

Moreng sê aan OFM Nuus sy wil geregtigheid sien geskied en glo Venter moet aanspreeklik gehou word vir haar optrede. “Niemand het haar die reg gegee om dit aan my te doen nie. Ek wil hê sy moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat sy gedoen het.”

Venter het Moreng na bewering op 24 Oktober by haar woning in Fichardtpark aangerand. Moreng beweer Venter het haar tydens ’n rusie teen ’n sleepwa gedruk en gewurg nadat sy die perseel wou verlaat.

Moreng het vroeër getuig dat sy krapmerke aan die linkerkant van haar nek en op haar bors opgedoen het en dat sy sedert die voorval werkloos is. Sy het ook vroeër beweer sy is aanvanklik aangestel om Venter in haar huis en met haar kinders te help, maar moes later ook by haar kosonderneming werk.

Die rusie het glo ontstaan nadat sy gevra is om verpakkingswerk oor te doen en sy geld vir vervoer gevra het toe sy die perseel wou verlaat. 

Venter is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die aanklag is later na aanranding gewysig. Teneal van Deventer en kandidaat-regspraktisyn Wiehan Schoeman van Horn & Van Rensburg Prokureurs tree namens Venter op.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.