Central SA
Kaapse sakerooftog: Twee bly in aanhouding ná inhegtenisneming by Colesberg─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:44 Wed, 12 Aug 2026
Twee mans doen na verwagting op 19 Augustus aansoek om borgtog nadat hulle in die Noord-Kaap in hegtenis geneem is ná ’n sakerooftog in die Wes-Kaap.
Die twee buitelanders (albei 30) sal met hul verskyning reeds sowat tien dae agter tralies wees. Hulle het Dinsdag (11/8) in die Colesbergse landdroshof voorgekom, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die mans is Sondag (9/8) sowat 20 km buite Colesberg in hegtenis geneem nadat hulle glo met ’n aansienlike bedrag geld in hul besit betrap is. Hulle word verbind met ’n rooftog Vrydag (7/8) by ’n onderneming in Kraaifontein.
“Die polisie het inligting ontvang dat vier verdagtes wat glo met ’n rooftog verbind word, op busse na Zimbabwe op pad was. ’n Gesamentlike operasie is van stapel gestuur om die verdagtes aan te keer,” sê Ehlers.
Polisiebeamptes van Colesberg, Kuyasa, Hanover en Noupoort, De Aar se openbareordepolisie, ’n privaat sekerheidsmaatskappy en Trompsburg se hoofwegpatrollie het aan die operasie deelgeneem. Die bus is omstreeks 21:00 voorgekeer en tot stilstand gebring.
’n Deursoeking van die voertuig het tot die inhegtenisneming van die twee mans gelei. Die polisie het egter nie bekendgemaak presies hoeveel geld gevind is nie en ook nie bevestig of die geld met die Kraaifontein-roof verband hou nie.
“Hoewel inligting aan die Noord-Kaapse polisie deurgegee is dat vier verdagtes glo op die bus was, is slegs twee mans in hegtenis geneem,” sê Ehlers. Die ondersoek duur voort en die moontlikheid van verdere inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie.

Vuyani Cassius Ngcamane. Foto verskaf
Intussen is die Vrystaatse polisie steeds op soek na ’n gewapende en gevaarlike verdagte wat met verskeie ernstige misdade in Bloemfontein verbind word. Vuyani Cassius Ngcamane (35) word gesoek in verband met beweerde motordiefstal, huisroof en twee aanklagte van poging tot moord.
Die polisie vra die publiek om te help om die verdagte op te spoor, maar waarsku hy moet onder geen omstandighede gekonfronteer moet word nie, aangesien hy as gevaarlik beskou word, sê sers. Sinah Mpakane, provinsiale polisiewoordvoerder.
“ ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik in verband met die beweerde diefstal van ’n motorvoertuig,” sê Mpakane.

Die saak is by die Parkweg-polisiekantoor geregistreer. Die verdagte word ook verbind met ’n huisroof en twee aanklagte van poging tot moord wat deur die Kopanong-polisie ondersoek word.
Enigiemand met inligting oor waar hy hom bevind, word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Lereko Koetle, by 067 929 1714 of lt.kol. Sias Smit by 063 692 1196 te bel.
Inligting kan ook anoniem aan Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-toep deurgegee word.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
