On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse sakevrou se beloofde skikking kom glo nie deur

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:39 Thu, 13 Aug 2026

Bloemfonteinse sakevrou se beloofde skikking kom glo nie deur | News Article
Dipao Moreng en Franzelle Venter Donderdag by die hof. Foto: Charne van der Merwe

’n Oudwerknemer van ’n Bloemfonteinse sakevrou gaan voort met ’n aanrandingsaak nadat ’n beloofde betaling na bewering nooit gemaak is nie.

Dipao Moreng hou egter vol die saak gaan nie oor geld nie, maar oor aanspreeklikheid vir die beweerde aanranding. Ná mislukte bemiddelingspogings het sy besluit om die strafsaak voort te sit.

Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, het Donderdag (13/8) weer in die Bloemfonteinse landdroshof voorgekom. Die saak is tot 17 September vir ’n voorverhoor uitgestel nadat die hof kennis geneem het van ’n brief van Venter se vroedvrou, Melanie Kearney van Estherea Women’s Wellness Clinic.

Venter staan tereg op ’n aanklag van aanranding. Die aanklag is vroeër teruggetrek op Moreng se versoek. Daar was glo ook onderhandelinge tussen die partye oor ’n moontlike skikking buite die hof.


Die hof het op 9 Julie gelas dat Venter ’n Nicro-evaluering ondergaan. Sy het op 14 Julie in die hof verskyn vir ’n formele Nicro-assessering.

Die staat het destyds die evaluering versoek weens die erns van die bewerings teen Venter. Ná oorlegpleging met die staat het Moreng egter besluit om die saak voort te sit. “Ek het nie die saak weer oopgemaak omdat sy my geld skuld nie. 

“Ek het besluit om voort te gaan omdat sy my aangerand het. Die feit dat sy my nie betaal het nie, is net ’n bewys dat sy nie omgee oor my gevoelens nie,” het Moreng buite die hof gesê. 

Volgens die brief sal Venter na verwagting op 2 September die lewe skenk. Die brief lui verder dat die stres en emosionele druk van hofverrigtinge gedurende dié stadium onnodige risiko’s vir haar en haar ongebore kind kan inhou.

Moreng beweer Venter het haar op 24 Oktober by haar woning in Fichardtpark aangerand en tydens die rusie teen ’n sleepwa gedruk en gewurg nadat sy die perseel wou verlaat. Sy beweer sy het krapmerke aan die linkerkant van haar nek en op haar bors opgedoen. Sy het ook beweer dat sy sedert die voorval werkloos is.

Venter is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die aanklag is later na aanranding gewysig. Teneal van Deventer en kandidaat-regspraktisyn Wiehan Schoeman van Horn & Van Rensburg Prokureurs tree namens Venter op.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.