On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Niemand nog aangekeer ná vragmotorbestuurder se moord in Hamilton

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Sun, 16 Aug 2026

Niemand nog aangekeer ná vragmotorbestuurder se moord in Hamilton | News Article
Die vragmotor se voorruit is deur minstens vier koeëls getref. Foto ter illustrasie: iStock

Die polisie is opsoek na gewapende mans nadat ’n vragmotorbestuurder in Hamilton, Bloemfontein, doodgeskiet is.

Die liggaam van die bestuurder (58) is in die voertuig gevind. “Hy is in sy oog geskiet en is op die toneel dood verklaar,” sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die skietery het Donderdag (13/8) in Enterprisestraat in die Hamilton-nywerheidsgebied plaasgevind. Beamptes is omstreeks 20:00 na die toneel ontbied. Die bestuurder se wit Tata 518C EX-vragmotor is in die middel van die pad aangetref.

“Die bestuurder en nog ’n man het pas die vragmotor gelaai vir ’n hoenderaflewering na Ficksburg toe die aanval plaasgevind het. ’n Onbekende wit SUV was langs die vragmotor geparkeer en die insittendes het skielik op die voertuig losgebrand,” sê Covane.

Sleutels geëis

Die bestuurder het daarin geslaag om die vragmotor in trurat te plaas om van die skietery weg te kom, maar het in die middel van die pad tot stilstand gekom waar hy aan sy beserings dood is.

Twee gewapende mans het glo die passasier gekonfronteer en die sleutel van die vragmotor se kluis geëis. Die passasier het die sleutels na die verdagtes gegooi en gevlug.

Toe hy kort daarna na die vragmotor terugkeer, het hy die bestuurder dood aangetref. Covane sê die vragmotor se voorruit is deur minstens vier koeëls getref.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die verdagtes is nog op vrye voet. “Ons vra enigeen met meer inligting om na vore te kom.”  

Bel lt.kol. Kelaotswe Lebodi, ondersoekbeampte, by 082 527 6348 of Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook na die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal vertroulik hanteer word. Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.