Central SA
Welkom: Fourie-egpaar hoor dalk binnekort oor hul appèlaansoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:58 Sun, 16 Aug 2026
Ná byna ses jaar van hofverrigtinge lyk dit of die regsdrama rondom die voormalige Goudveldse polisieman en sy vrou nog nie tot ’n einde gekom het nie.
Daniel Fourie en sy vrou, Anna Francina, sal moontlik Maandag (17/8) hoor of hul aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnisse toegestaan word. Die egpaar is op 30 Julie in die streekhof in Welkom gevonnis
Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis en Anna tot 36 maande korrektiewe toesig.
Die egpaar is op 7 April skuldig bevind aan meer as 1 150 aanklagte waaronder intimidasie, kwaadwillige saakbeskadiging, crimen injuria, laster en verwante misdrywe. Die saak spruit voort uit ’n langdurige vete met die broers Manny en José Jardim.

Van die graffiti wat oor die Goudveld heen gemaak is. Foto verskaf
Daniel is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding, terwyl Anna se borgtog tot met vonnisoplegging verleng is om reëlings vir die egpaar se 34-jarige gestremde seun te tref.
Tydens die vonnisverrigtinge het die verdediging ook versoek dat die media nie verder oor die saak berig nie. Volgens die verdediging is persoonlike inligting oor die egpaar se gestremde kind in vorige berigte openbaar gemaak en behoort dit nie deel van die openbare domein te wees nie.

’n Voorbeeld van die graffiti. Foto verskaf
Landdros Marionette Kirsten het die aansoek van die hand gewys en gesê inligting wat tydens hofverrigtinge aangebied word, kan ook in die klagstaat vervat wees, waartoe die media toegang het.
Tydens betoog oor vonnis het staatsadvokaat Allen Simpson aangevoer dat die hof die kumulatiewe uitwerking van die meer as 1 150 misdrywe in ag moet neem. Die staat het die saak beskryf as ’n goed beplande en volgehoue veldtog van teistering teen ’n Portugese familie wat oor meer as vyf jaar gestrek het.
Openbare vernedering
Volgens die staat het die slagoffers jare lank onder voortdurende vrees, emosionele trauma en reputasieskade geleef weens herhaalde intimidasie, lasterlike graffiti, kwaadwillige saakbeskadiging en openbare vernedering.
Die vervolging het ook aangevoer die beskuldigdes het geen berou getoon of verantwoordelikheid vir hul optrede aanvaar nie.

Die egpaar het intussen aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnisse ingedien. Die beslissing is tot Maandag uitgestel sodat die hof kan bepaal of daar redelike vooruitsigte op sukses bestaan voordat besluit word of verlof tot appèl toegestaan sal word.
Indien die aansoek slaag kan ’n saak wat reeds byna ses jaar duur nog verder voortsleep.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
