On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Twee Vrystaters gesoek ná aanranding

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:16 Mon, 17 Aug 2026

Twee Vrystaters gesoek ná aanranding | News Article

Twee persone van belang word in die Vrystaat gesoek omdat hulle moontlik kan help met ondersoeke na afsonderlike gevalle van aanranding.

Die polisie op Ficksburg is op soek na Moshabali Malaka en Charlie Mpane, ook bekend as Skipa, wat moontlik belangrike inligting oor twee afsonderlike voorvalle kan verskaf. Die voorvalle het tussen Junie en vandeesmaand in Meqheleng plaasgevind, sê ao. Mmako Mophiring, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die eerste saak hou verband met ’n voorval wat op 16 Junie omstreeks 19:30 plaasgevind het. ’n Vrou het na bewering ’n rusie met haar kêrel gehad oor hul kind se van. Hy het haar toe na bewering aangerand en met ’n mes in die arm gesteek voordat hy spore gemaak het.


’n Saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek. Malaka word as ’n persoon van belang beskou wat met die ondersoek kan help. In ’n afsonderlike voorval op 9 Augustus omstreeks 19:00 het ’n woordewisseling tussen ’n vrou en haar ekskêrel na bewering gewelddadig geraak. Die slagoffer is met ’n beitel aangerand.

Bure het ingegryp, waarna sy beserings aan haar oog en ander dele van haar liggaam opgedoen het. Mpane word in dié saak as ’n persoon van belang gesoek wat die polisie moontlik met hul ondersoek kan bystaan.

Enigiemand wat inligting het oor die twee persone se verblyfplek, kan lt.kol. Lebakeng by 079 897 7144, speursersant Mokgothu by 073 223 0841 of speurkonst. Selemakoro by 061 670 2743 kontak. Bel Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook via die MySAPS-app gestuur word.

“Alle inligting sal streng vertroulik gehanteer word,” sê Mophiring.

Intussen is die Vrystaatse polisie steeds op soek na ’n gewapende en gevaarlike verdagte wat met verskeie ernstige misdade in Bloemfontein verbind word. Vuyani Cassius Ngcamane (35) word gesoek in verband met beweerde motordiefstal, huisroof en twee aanklagte van poging tot moord.

Die  polisie vra die publiek om te help om die verdagte op te spoor, maar waarsku hy moet onder geen omstandighede gekonfronteer moet word nie, aangesien hy as gevaarlik beskou word, sê sers. Sinah Mpakane, provinsiale polisiewoordvoerder.

“ ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik in verband met die beweerde diefstal van ’n motorvoertuig,” sê Mpakane. 

Gewapende, gevaarlike Bloem-verdagte steeds op vrye voet | News Article

Vuyani Cassius Ngcamane. Foto verskaf

Die saak is by die Parkweg-polisiekantoor geregistreer. Die verdagte word ook verbind met ’n huisroof en twee aanklagte van poging tot moord wat deur die Kopanong-polisie ondersoek word.

Enigiemand met inligting oor waar hy hom bevind, word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Lereko Koetle, by 067 929 1714 of lt.kol. Sias Smit by 063 692 1196 te bel. 

Inligting kan ook anoniem aan Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-toep deurgegee word.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.