Central SA
Fourie-egpaar van Welkom se aansoek om verlof tot appèl uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:15 Tue, 18 Aug 2026
Die regsproses van ’n voormalige Goudveldse polisieman en sy vrou sal op 28 Augustus voortgaan nadat hul aansoek om verlof tot appèl Maandag uitgestel is.
Daniel en Anna Francina Fourie het Maandag (17/8) in die Welkom-streekhof verskyn vir ’n beslissing in hul aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnisse. Die verrigtinge kon egter weens onvoorsiene omstandighede nie voortgaan nie.
Fourie het met voetboeie in die hof verskyn, en dit was duidelik dat hy sedert sy skuldigbevinding op 7 April aansienlik gewig verloor het. Hy is op 30 Julie tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis en sy vrou tot 36 maande korrektiewe toesig.

Daniel Fourie in voetboeie Maandag by die hof. Foto Charne van der Merwe
Die egpaar is vroeër vanjaar skuldig bevind aan meer as 1 150 aanklagte, insluitend intimidasie, kwaadwillige saakbeskadiging, crimen injuria, laster en verwante misdrywe. Die saak spruit uit ’n jarelange vete met die broers Manny en José Jardim.
Hoewel dit nooit in die hof bewys is nie, het adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, tydens die ses jaar lange hofsaak aangevoer Fourie se optrede hou moontlik verband met vermoedens oor die vaderskap van die egpaar se oudste seun. Ná bewering het hy ’n verbintenis met een van die klaers.
Die hof het Fourie vroeër gelas om ’n foto van die oudste kind in te handig. Fourie het in 2021 geweier om ’n DNS-toets te ondergaan om vas te stel of die kind biologies syne is. Fourie het vroeër aangevoer hy behoort vrygelaat te word.
Hy het daarop gewys dat hul gestremde seun sedert sy inhegtenisneming emosioneel sukkel en nie verstaan waar sy pa is nie. Simpson het egter aangevoer die egpaar het nie aan die gevolge vir hul seun gedink toe hulle die beweerde dade gepleeg het nie.
Die egpaar se dogter moes intussen haar studie tydelik staak om haar ma met die versorging van haar broer te help en verantwoordelikhede by die huis te hanteer.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

