Central SA
Bejaarde kinderverkragter se vonnis moontlik uitgestel weens heupoperasie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:29 Tue, 18 Aug 2026
’n Bejaarde Vrystater wat skuldig bevind is aan die verkragting van ’n minderjarige, sal na verwagting nie Woensdag gevonnis word nie om mediese redes.
Barend Hendrik van der Berg (84) van Petrusburg is steeds in die hospitaal en moet ’n heupvervanging ondergaan. “Die datum vir die operasie is nog nie vasgestel nie,” sê Francois Retief, sy regsverteenwoordiger.
Hy is op 20 Julie skuldig bevind aan verkragting, seksuele uitbuiting van ’n kind en dat hy kinders gedwing het om ’n seksuele misdryf te aanskou. Hy is sedertdien in aanhouding.
Sy vonnisoplegging sou aanvanklik op 6 Augustus plaasvind, maar die verrigtinge kon nie voortgaan nie nadat hy na bewering in die stort geval en sy heup beseer het. Van der Berg het skuld ontken, maar die hof het sy weergawe verwerp en hom op al die aanklagte skuldig bevind.
'Speel by sy woning saam met ander kinders'
Volgens die staat het die verkragting van ’n agtjarige meisie oor ’n tydperk van meer as ’n jaar plaasgevind. Die kind het na bewering gereeld ná skool by Van der Berg se huis gekuier.
Die saak het in Julie 2024 begin ontvou toe ’n ouer op ’n vergadering by ’n laerskool ’n onderwyser ingelig het oor die kind se opmerkings. Sy het aan ander leerlinge vertel dat sy dikwels by Van der Berg se woning is en daar saam met ander kinders speel.
Die onderwyser het die inligting aan die polisie oorgedra. Die meisie het aan die polisie gesê dat sy feitlik elke middag ná skool na die man se huis gegaan het.
'Hy het glo ander kinders gedwing om die verkragting te aanskou'
Die staat beweer hy het onder meer brood, koekies en koeldrank aan die kinders gegee en hulle toegelaat om sy swembad te gebruik. Die verkragting het daarna plaasgevind.
Hy het glo twee ander kinders, toe sewe en nege jaar oud, gedwing om die verkragting te aanskou. Die hof het bevind die kinders se getuienis is geloofwaardig en sy weergawe verwerp dat die aantygings teen hom vals is.
Hy beweer die kinders is deur ander mense beïnvloed of voorgesê om die bewerings te maak.
Retief het vroeër aan OFM Nuus gesê hulle het intussen ’n korrektiewetoesigverslag aangevra, aangesien hy weens sy ouderdom waarskynlik nie tronkstraf sal kan uitdien nie.
“Hoewel die staat lewenslange tronkstraf sal vra, wil ons die verslag gebruik in ’n aansoek dat Van der Berg onder korrektiewe toesig geplaas word.”
“OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel ofwhatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

